In ’n mediese eerste het ’n vrou in Swede die lewe geskenk nadat sy ’n baarmoeder-oorplanting ontvang het, sê die dokter wat die operasie uitgevoer het.

Die 36-jarige vrou het verlede jaar ’n baarmoeder van ’n nabye familievriend ontvang. Haar seun is verlede maand vroeg maar gesond gebore, en albei is by die huis en is gesond. Die vrou en haar man se identiteit is nie bekendgemaak nie.

“Die baba is wonderlik,” sê dr. Mats Brannstrom, ’n dosent in verloskunde en ginekologie aan die Universiteit van Gothenburg en die Stockhölm-bevrugtingskliniek, wat die navorsing gelei het en met die hulp van sy vrou, ’n vroedvrou, die baba in die lewe gebring. “Maar dit is nog beter om die ouers se vreugde te sien.”

Dr. Brannstrom het gesê hy “besef nog nie heeltemal dat ons dit gedoen het nie”.

Dit bied ’n nuwe (maar steeds eksperimentele) alternatief vir van die duisende vroue wat nie kinders kan hê nie omdat hulle hul baarmoeder weens kanker verloor het of sonder ’n baarmoeder gebore is. Voor hierdie geval bewys het die konsep kan werk, het party kenners getwyfel of ’n oorgeplante baarmoeder ’n fetus sal kan voed.

Ander het bevraagteken of so ’n ekstreme stap – dit is duur en uiters riskant – vir baie vroue selfs ’n opsie sou wees.

Dr. Glenn Schattman, die voormalige hoof van die Society for Assisted Reproductive Technologies en ’n vrugbaarheidskenner aan die Cornell-universiteit, het gesê baarmoeder-oorplantings sal steeds hoogs ongewoon bly.

“Dit sal net gedoen word wanneer daar geen ander opsies is nie,” het hy gesê. “Dit is ’n baie lang operasie en het baie risiko’s en komplikasies.”

Vir die trotse ouers is die jare se navorsing en eksperimente die wag werd.

“Dit was met die jare ’n taamlik moeilike pad, maar nou het ons die wonderlikste baba,” het die pa in ’n telefoniese onderhoud gesê. “Hy is baie, baie oulik en hy gil nie eers nie; hy murmer net.”

Dr. Brannstrom en sy kollegas het oor die afgelope twee jaar oorplantings in nege vroue gedoen, maar weens komplikasies moes twee verwyder word. Vroeër vanjaar het dr. Brannstrom embrio’s in die oorblywende sewe vrou begin inplant. Hy het gesê twee ander swangerskappe is minstens 25 weke vêr.

Die Sweedse vrou het gesonde eierstokke gehad, maar is sonder ’n baarmoeder gebore – ’n sindroom wat 1 uit 4 500 vroue raak. Sy het ’n baarmoeder ontvang van ’n 61-jarige familievriendin wat menopouse ondergaan nadat sy aan twee kinders die lewe geskenk het.

Dr. Brannstrom het gesê hy was verbaas dat so ’n ou baarmoeder so suksesvol gewerk het, maar die belangrikste faktor blyk te wees dat dit gesond is.

Die ontvanger moes drie soorte medikasie neem om te verhoed dat haar liggaam die orgaan verwerp. Sowat ses weke ná die oorplanting het sy haar maandstonde gekry – ’n teken dat die baarmoeder gesond is.

Nadat ’n abnormale fetale hartklop gewaar is, is die baba met ’n keisersnee in die wêreld gebring. Hy het sowat 1,8 kg geweeg, wat ’n normale gewig vir daardie stadium van swangerskap. Die baba is 10 dae ná sy geboorte uit die neonatale eenheid ontslaan.

“Hy verskil nie van ander kinders nie, maar hy het ’n goeie storie om te vertel,” sê die baba se pa. “Eendag kan hy na die koerantberigte kyk en weet hy is die eerste mens wat so die lewe binnegekom het.”

- SAPA-AP