“Die media moet 50 m van die ingange af wegbly; julle word tot daardie hoek beperk,” het ’n beampte, wat nie sy naam wou verskaf nie, gesê en na ’n gebied aan die ander kant van die huis gewys.

Mandela se huis in Houghton is ’n nasionale sleutelpunt en onder gedurige waarneming, het die beampte gesê terwyl hy die huis se kleiner hek beman het.

Toegang tot die huis en parkering binne 9 m daarvan af word beperk tot mense en voertuie met amptelike klaring.

Lede van die Johannesburgse metropolisie het die strate gepatrolleer en seker gemaak dat die media en hul toerusting nie die verkeer belemmer nie.

Die presidensie het Sondag gesê dat Mandela uit die hospitaal ontslaan is.

’n Groot klomp mediamense het buite gewag om sy terugkeer te aanskou en die polisie was teenwoordig.

Mac Maharaj, die woordvoerder van die presidensie, het gesê Mandela se toestand bly kritiek en is “by tye onstabiel”.

Sy huis is aangepas om te verseker dat hy die regte behandeling kry. Sommige personeellede wat by die hospitaal was, sal hom tuis versorg.

Mandela is op 8 Junie vanjaar in die Mediclinic-harthospitaal in Pretoria opgeneem vir ’n gedurige longinfeksie.

- Sapa