Suid-Afrikaners van reg oor die land het hul medelye in die sosiale media gedeel na die bekende kruiekenner Margaret Roberts, Saterdagoggend op 80-jarige ouderdom gesterf het.

“Ons ongelooflike ma en my beste vriendin is vanoggend oorlede nadat sy ’n kort rukkie in die hospitaal was,” het Margaret se dogter Sandy Roberts, Saterdag op haar Facebookblad geskryf.

“Dit was ’n voorreg en eer om haar dogter te wees, saam met haar te werk en ons droom om ons eie kruiesentrum te hê, saam te bou.

“Ek mis jou meer as wat woorde kan beskryf en sal my bes doen om te verseker dat ons goeie werk en jou erfenis sal voorbestaan”, lui die boodskap verder.

In reaksie daarop is haar inskrywing meer as 3000 keer gedeel met baie vriende en aanhangers wat roerende boodskappe op Margaret se Facebook-blad gaan deel het.

Die sentrum waarna Sandy verwys is die Margaret Roberts-kruiesentrum in De Wildt, naby Hartbeespoort.

Margaret het Suid-Afrikaners destyds aan kruie en die vele gebruike daarvan bekendgestel. Sy het meer as 30 boeke daaroor geskryf en kruieprodukte aan talle van die land se groot kettingwinkels verskaf.