“Komaan, Mmusi Maimane, jy is die leier wat Suid-Afrika kan help om van die strofes van Die Stem in ons volkslied ontslae te raak.”

[caption id="attachment_117604" align="alignnone" width="600"]Max du Preez (Foto: Facebook) Max du Preez (Foto: Facebook)[/caption]

Dit is die beroep wat die politieke ontleder Max du Preez Dinsdag op die leier van die DA gedoen het.

In sy rubriek, wat onder meer op die webtusites News24 en Netwerk24 en in die dagblad Beeld geplaas is, voer Max aan “net ’n hand vol bitterbekke behoort daaroor kwaad te wees sou dié voorstel van ’n party kom wat deur die meeste wit mense gesteun word”.

Huisgenoot het by ander meningsvormers gaan aanklop wat ook hul stem dik gemaak het:

Die politieke ontleder dr. Piet Croucamp stem saam met Max en meen ook die gedeelte van Die Stem moet verwyder word uit ons volkslied, Nkosi Sikelel’ iAfrika. Dis nou as ons nog enigsins ’n nasionale volkslied nodig het, sê hy.

“Ek vind dit steurend dat ons die verlede romantiseer deur die Die Stem in te sluit. Die ANC het met die val van apartheid ná 1994 dié gedeelte in die nasionale volkslied behou om ’n kompromie met wit Afrikaanse Suid-Afrikaners aan te gaan. Dit is gedoen in ’n poging om konflik te vermy. Ek dink ons is nou verby daardie punt.”

Hy glo ons moet in “die naam van politieke volwassenheid” aanbeweeg.

Piet voel as ons nou ’n lied moet hê, dalk om ’n “bindende krag” te smee, ons eerder van voor moet begin en ’n nuwe lied moet skryf. “’n Sekulêre een, wat soos die Spanjaarde eerder sonder enige woorde net mooi musiek speel waarna almal saam kan luister,” benadruk hy.

Hy het ook ’n probleem daarmee dat die volkslied net een godsdiens onderskraag. “Nkosi Sikelel’ iAfrika is eintlik ’n gebed – dit terwyl ons ’n sekulêre land is met van Boeddhiste en Moslems tot Christene.”

Moeletsi Mbeki, politieke ontleder en broer van oudpres. Thabo Mbeki, sê hy het nie enige wesenlike probleme met Die Stem nie. “Hoekom moet Maimane Die Stem help verwyder? Die besluit om dit by Nkosi Sikelel’ in te sluit is in elk geval tydens die Grondwet-onderhandelinge geneem. Nes ons landsvlag.

’n Grondwet kan aangepas word, maar wat het dit nou met die DA te doen? Dié van alle oorde wat sterk daaroor voel kan seker saamkom en dit bespreek. Hoekom is dit nou relevant? Dit is wat gebeur as ’n rubriekskrywer se idees opraak.”

Moeletsi nebadruk hy dink ons het veel groter kwessies om oor te besin as die verlede. Hy sê hy het die afgelope week in ’n Sondagkoerant oor die toekoms oor landbou in die land gepraat. “Hoor jy wat ek sê? Die toekoms van landbou, nie die verlede nie.”

Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, vertel Die Stem is ondanks ons land se diep verdeelde verlede in 1997 by die nasionale volkslied ingesluit – ’n verlede waartydens baie kompromieë aangegaan is om ons te bring waar ons vandag is.

“Dit sal ’n vereenvoudiging wees om te dink deur net Die Stem te verwyder sal oplossings bied. Hoekom moet ons erfenis en Afrikaans altyd in die slag bly? Ons breek veel eerder as om aan ’n gemeenskaplike erfenis te bou.”

Jan vertel Ierland het net soveel konflik, indien nie bloediger konflik nie, as Suid-Afrika gehad het. Amhrán na bhFiann (Die Soldatelied) is die nasionale volkslied van die Republiek van Ierland. God Save the Queen is die nasionale lied van Noord-Ierland.

’n Oplossing moes gevind word. Die pragtige Ireland’s Call is in 1995 as opdragwerk deur die Ierse Rugby gekomponeer om te sing by internasionale sportgeleenthede. Sedertdien gebruik hokkie, krieket, rugby korfbal en verskeie ander sportkodesd it.

Dit is dus moontlik om kreatief te werk en nie die verlede uit die hedendaagse geskiedenis te skryf nie. Ek moet ook waarsku: Dit is wel ook belangrik dat Die Stem nie vir politieke doeleindes gebruik word nie. Dit is ons kultuurerfenis en moet as sodanig ook deur Afrikaners gerespekteer en waardeer word.

Ons moet onsself dus nie blootstel vir onnodige kritiek op Die Stem nie. Dit is onlosmaaklik deel van ons kultuur en erfenis en ons kan nie toelaat dat dit verwyder word nie.”