Insp. Shiva Coothen, polisiewoordvoerder in Mauritius se hoofstad, Port Louis, het Woensdag telefonies aan Huisgenoot bevestig die 34-jarige Marietjie het weer Woensdagoggend hier voorgekom.

Hy sê die saak is tot 5 Julie uitgestel wanneer die verdediging en die staat met hul betoë begin. Die verhoor sal óf in die plaaslike hof voortgaan óf na Mauritius se hooggeregshof oorgeplaas word. 

Huisgenoot het in Desember berig die aanklag van moord teen Marietjie is laat vaar en verander na die mindere klag van aanranding sonder die doel om moord te pleeg. Hy het toe bevestig Marietjie sal steeds weens Mundolene se dood verhoor word en tronkstraf as vonnis is nie uitgesluit nie.
Haar man en Mundolene se pa, Mike Vosloo (46), het aan Huisgenoot gesê dit gaan onder die omstandighede goed met hom en sy en Marietjie se 12-jarige seun. Mundolene was Mike se oogappel en haar dood was vir hom baie moeilik. 

“Ek mis my kind verskriklik baie. Ek dink nog elke dag aan haar. Die trane loop elke dag. Dit is ongelooflik moeilik sonder haar.” 


Mike en Marietjie se jong seun is weekliks in aanraking met sy ma. Hy mis nie net sy ouer suster nie, maar ook sy ma geweldig baie.

Mike, Marietjie, hul seun en Mike se kinders uit sy vorige huwelik, Mundolene en haar broer (15), het op 5 Oktober, die dag voor die treurspel, vir hul eilandvakansie by die luukse Hotel Riu Creole in Mauritius aangekom. Marietjie en Mundolene het glo die volgende dag stry gekry. 

Toe Marietjie en Mundolene van die swembad af na hul hotelkamer stap, het die stryery vererger en Marietjie het Mundolene glo hard met die vuis in die gesig geslaan. Mundolene was so ontstoke tydens die slag dat sy ’n beroerte gehad het. Die aartjies wat in haar kop gebars het, het tot bloeding op die brein gelei. Sy is kort daarna op die toneel dood verklaar en Marietjie is aangekeer. Sy is sedertdien in aanhouding.

Mike vertel hy wil afsluiting hê. Shiva het bevestig wanneer die betoë in Julie gelewer word, wat ’n onbepaalde tyd kan duur, sal bepaal word of die staat getuies van Suid-Afrika, onder wie Mike of sy seuns, wil roep.