Die raaiselagtige dood van Mundolene Vosloo, ’n 17-jarige meisie van Springs aan die Oos-Rand, het haar landgenote vandeesweek aangegryp. Die tiener het tydens wat veronderstel was om ’n droomvakansie te wees onder vreemde omstandighede gesterf.

[caption id="attachment_139843" align="alignnone" width="600"]Mundolene Vosloo is dood in Mauritius gevind. Foto: Facebook Mundolene Vosloo is dood in Mauritius gevind. Foto: Facebook[/caption]

ONS BEANTWOORD JOU VRAE OOR DIÉ TRAGEDIE

Wat is aanvanklik berig?

Volgens die L’express, ’n Franse nuusblad in Mauritius, het Mundolene saam met haar pa, stiefma en twee broers vakansie gehou.

Die nuusblad skryf Mundolene het Woensdagaand inmekaargesak in die hotel waar die familie tuisgegaan het. Sy is volgens dié berigte kort daarna deur ’n plaaslike dokter dood verklaar en het glo weens interne bloeding gesterf.

Hoewel die presiese omstandighede rondom haar dood nog nie ten tye van Huisgenoot se aanvanklike beriggewing bevestig was nie, was daar berigte dat Mundolene se stiefma, Marietjie Vosloo, haar glo ná ’n rusie geslaan het.

’n Mauritiaanse polisiewoordvoerder het aan Huisgenoot bevestig Marietjie is intussen aangekeer en van manslag aangekla.

Mundolene was ’n leerling aan die Hoërskool Hugenote in Springs. “Ons het glad nie ’n idee wat aangaan nie! Dit is verskriklik om nie te weet nie, ” het Yolandé Smuts, Mundolene se tannie, aan Huisgenoot gesê.

Tyron Bothma, Mundolene se kêrel van Johannesburg, het ook haar dood aan Huisgenoot bevestig, maar wou nie verdere besonderhede gee nie. Haar ma en stiefpa was in daardie stadium op pad na Mauritius.

Boodskappe van medelye en herinnering is op haar Facebook-bladsy geplaas. “Ek met my Mundolene’tjie . . . jy met jou bandolientjie . . . sing ons die Oukraalliedjie saam . . . Ek gaan definitief die tye mis wat ek jou geken het vriendin. . . ,” lees een van dié boodskappe aan Mundolene van Leon Saayman.

Die polisie in Springs het ook haar dood bevestig.

Wat is die amptelike oorsaak van Mundolene se dood?

10580029_1726410330912319_4799814029080293466_n

Mundolene is glo aan natuurlike oorsake dood.

Volgens ’n polisiewoordvoerder in Mauritius het die nadoodse ondersoek gewys die 17-jarige is weens bloeding op die brein dood. Dit is onduidelik wat die bloeding veroorsaak het.

Die ondersoek na Mundolene se dood is Donderdagmiddag deur drs. Junjadin en Chamane, staatspatoloë, gedoen. “Sy is volgens die dokters dood aan subaragnoïediese bloeding. Die dokters sê sy het aan natuurlike oorsake gesterf,” het die woordvoerder gesê.

Volgens Brittanje se nasionale gesondheidsdiens ontstaan breinbloeding wanneer bloedvate tussen die brein en skedel bars. Dit hou dikwels verband met beroertes.

Mundolene is Woensdagmiddag omstreeks halfvyf plaaslike tyd by die Hotel Riu Le Morne aan die suidwestelike kus dood nadat sy deur dokters van die hotel behandel is.

Sy was saam met haar pa, Mike, stiefma, Marietjie, en twee broers op vakansie. Marietjie is intussen op ’n klag van manslag in hegtenis geneem na daar berig is sy het Mundolene geklap.

Sy het Donderdag in die hof verskyn en is steeds in aanhouding. Dis onduidelik wanneer sy weer in die hof gaan verskyn.

Waar het Mundolene-hulle vakansie gehou?

[post-slider]

DIE OORD GEE ‘VOLLE SAMEWERKING’ AAN POLISIE

Die bestuur van die luukse hotel op Mauritius waar die Oos-Randse tiener Mundolene Woensdag dood is, gee hul “volle samewerking” aan die polisie.

Inigo Berapain, bestuurder van die vierster Riu Le Morne, aan die eiland se suidwestelike kus, sê hy kan nie veel kommentaar lewer nie omdat die polisie se ondersoek nog nie afgehandel is nie.

Mundolene het Dinsdag saam met haar pa, stiefma en twee broers op die eiland aangekom. Die gesin het glo uitgesien na wat hul “droomvakansie” sou wees.

Berapain wou nie besonderhede gee tot wanneer die Vosloos daar sou bly of aan watter vakansie-aktiwiteite hulle deelgeneem het nie.

Die hotel bestaan uit 218 kamers en beskik oor ’n watergimnasium, ’n spa, vyf restaurante, twee swembaddens en is op die strand geleë. Hy kry ’n gemiddeld van vier sterre op TripAdvisor.

Wat word nou van Mundolene se stiefma?

[caption id="attachment_139962" align="alignnone" width="600"]Fotosamestelling: YouTube, Teleplus; Facebook Fotosamestelling: YouTube, Teleplus; Facebook[/caption]

Marietjie, die stiefma van die Springs-tiener Mundolene Vosloo wat Woensdag onder vreemde omstandighede in hul hotel in Mauritius dood is, gaan die naweek in ’n Mauritiaanse tronk deurbring.

Sy verskyn volgende Woensdag weer in die hof op aanklag van manslag.

Die klag spruit uit onbevestigde berigte dat Marietjie by Mundolene se dood betrokke was. Die 17-jarige tiener het Woensdagaand inmekaargesak en gesterf, glo nadat sy en haar stiefma in ’n rusie betrokke was.

Die ondersoekbeampte, inspekteur S. Coothen, het aan Huisgenoot bevestig Marietjie sal Woensdag in die Mauritiaanse hooggeregshof in Port Louis verskyn. Coothen kon nie bevestig by watter polisiekantoor sy intussen aangehou word nie.

“Hierdie is nie ’n klein saak nie,” het Coothen ernstig bygevoeg. “Dis manslag.”

Volgens Coothen word die saak nog ondersoek en geen sprake van borgtog is geopper nie. Hy kon ook nog nie bevestig of Marietjie al om regshulp aansoek gedoen of iemand aangestel het nie.

HIER WORD MARIETJIE GEARRESTEER

Hoe gaan dit met Mundolene se kêrel?

“Hierdie is vir jou, my engel.” Tyron Bothma het ’n liedjie vir sy oorlede meisie, Mundolene, geskryf en ’n video van sy klawerbord-uitvoering daarvan op Facebook gedeel.

“So, ek is nie ’n goeie klavierspeler nie. Maar ek het hierdie uit my hart uit vir my meisie geskryf. Ek wil dit graag deel,” het hy by die video geskryf. Die video is Donderdag op Facebook gedeel.

Die selfoonvideo van ’n hartseer deuntjie wat hy op die klawerbord speel, het baie reaksie ontlok. Die video is (ten tye van publikasie) in die 22 uur wat dit op Facebook was, meer as 4000 keer gekyk. Dit is ook meer as 80 keer deur mense op Facebook gedeel.

“Dit is so mooi, Tyron, ek is seker sy is mal daaroor,” het ene Carnelle Vorster geskryf.

Selfs mense wat Tyron nie ken nie, het hom probeer bemoedig.

“Ek ken jou ook nie, Tyrone, maar wil net ook vir jou sê sterkte en mag jou geloof jou deur die moeilike tyd dra . . . jou musiekstuk is awesome (sic),” het Lee-Ann Wilson in die kommentaar-afdeling onder die video geskryf.

Simone Potgieter het geskryf: “Ty . . . Sy was bitter lief vir jou; dit was duidelik en ’n mens sê nooit goodbye nie, dis tot jy haar weer sien.”

Tyron het almal bedank wat gereageer en bemoedigende boodskappe gestuur het.

“Ek mis jou so baie my liefie,” het hy saam met twee prentjies van gebreekte hartjies geskryf.

– Marizka Coetzee en Charlea Sieberhagen