Dit gaan heel goed met Marietjie Vosloo wat in Mauritius aangehou word weens die dood van haar 17-jarige stiefdogter, sê insp. Shiva Coothen, woordvoerder van die polisie op dié eiland.

Marietjie (33) is al byna ’n week in polisie-aanhouding in Mauritius nadat Mundolene Vosloo (17), ’n leerder aan die Hoërskool Hugenote in Springs, verlede Woensdag inmekaargesak het nadat haar stiefma haar glo bygedam het. Marietjie is dié aand op ’n aanklag van strafbare manslag in hegtenis geneem.

’n Nadoodse ondersoek het getoon Mundolene is dood weens bloeding op die brein.

Marietjie het die dag ná Mundolene se dood vir die eerste keer in die distrikshof op die dorp Bambous verskyn. Haar volgende verskyning sal in die hooggeregshof in Port Louis, die hoofstad van Mauritius, wees.

“Marietjie sal Donderdag hof toe geneem word,” sê Coothen.

“Die ondersoek moet nog voltooi word.

“Alles hang af van die landdros wat tydens die verskyning sal gebeur en of sy vrygelaat sal word en of sy steeds in aanhouding sal bly.”

[caption id="attachment_139843" align="alignnone" width="600"]Mundolene Vosloo is dood in Mauritius gevind. Foto: Facebook Mundolene Vosloo is dood in Mauritius gevind. Foto: Facebook[/caption]

Mundolene was saam met haar pa, Mike Vosloo, twee broers (wie se name nie bekend gemaak mag word nie omdat hulle minderjarig is) en haar stiefma vir ’n week lange vakansie in Mauritius. Hulle het Dinsdag in Mauritius aangekom en by die Hotel Riu Creole-oord tuisgegaan.

Die volgende dag het Mundolene en Marietjie by die swembad stry gekry, waarna Marietjie haar stiefdogter glo bygedam het. Mundolene het daar inmekaargesak en op die grond geval. Dokters kon haar nie bykry nie en sy is dood verklaar.

Mundolene se ma en stiefpa, Mariska en Johan van Heerden, het Maandag van Mauritius na Suid-Afrika teruggekeer. Mundolene se pa, Mike, keer Dinsdag terug na Suid-Afrika.