Mundolene Vosloo is glo aan natuurlike oorsake dood.

10580029_1726410330912319_4799814029080293466_n

Volgens ’n polisiewoordvoerder in Mauritius het die nadoodse ondersoek gewys die 17-jarige is dood weens bloeding op die brein. Dis onduidelik wat die bloeding veroorsaak het.

Die ondersoek na Mundolene se dood is Donderdagmiddag deur drs. Junjadin en Chamane, staatspatoloë, gedoen. “Sy is volgens die dokters dood aan subaragnoïediese bloeding. Die dokters sê sy het aan natuurlike oorsake gesterf,” sê die woordvoerder.

Volgens Brittanje se nasionale gesondheidsdienste ontstaan breinbloeding wanneer bloedvate tussen die brein en skedel bars. Dit hou dikwels verband met beroertes.

Mundolene is Woensdagmiddag omstreeks halfvyf plaaslike tyd by die Hotel Riu Le Morne aan die suidwestelike kus dood na sy deur dokters van die hotel behandel is.

Sy was saam met haar pa, Mike, stiefma, Marietjie, en twee broers op vakansie. Marietjie is intussen op ’n klag van manslag in hegtenis geneem na daar berig is sy het Mundolene geklap.

Sy het Donderdag in die hof verskyn en is steeds in aanhouding. Dis onduidelik wanneer sy weer in die hof gaan verskyn.