“Ek was (in die verlede) elke Desember by die huis, maar ná die voorval het my hele lewe verander op maniere wat ek nooit gedink het dit sou nie,” het Mike (46) eksklusief per WhatsApp vanuit die Demokratiese Republiek van die Kongo aan Huisgenoot vertel.

Huisgenoot het vroeër berig Mike en sy vrou, Marietjie (33), se 11-jarige seun moes ná die tragedie twee maande gelede by ’n au pair in Margate, KwaZulu-Natal, agterbly omdat Marietjie steeds op die eiland in aanhouding is en hy na sy werksverpligtinge in die mynwese in die Kongo moes terugkeer. Weens sy druk program by die werk sal Mike sy seun eers weer in Januarie sien.

Mike het bevestig dat Marietjie weer op 17 November verskyn het, maar sê die saak is tot 30 November uitgestel.

Insp. Shiva Coothen, woordvoerder van die polisie op dié eiland, het vroeër aan Huisgenoot gesê die hof sal eers ’n voorlopige ondersoek moet gelas om te bepaal of sy van moord of strafbare manslag aangekla gaan word.

Marietjie en Mundolene, Mike se kind uit sy eerste huwelik, het op die eerste dag van die gesin se vakansie op 5 Oktober by die luukse Hotel RIU Creole oor handdoeke stry gekry. Marietjie het Mundolene glo hard in die gesig geklap, wat bloeding op Mundolene se brein en ’n beroerte veroorsaak het.

Shiva het bygevoeg daar is geen vooruitsig dat Marietjie al hierdie jaar verhoor sal word nie.

Mundolene se 15-jarige boetie, ook uit Mike se eerste huwelik, bly by sy ma in Springs aan die Oos-Rand.