“Hierdie is vir jou, my engel.”

“So, ek is nie ’n goeie klavierspeler nie. Maar ek het hierdie uit my hart uit vir my meisie geskryf. Ek wil dit graag deel,” het hy by die video geskryf. Die video is Donderdag op Facebook gedeel.

Die selfoonvideo van ’n hartseer deuntjie wat hy op die klawerbord speel, het baie reaksie ontlok. Die video is in die 22 uur wat dit op Facebook was, meer as 4000 keer gekyk. Dit is ook meer as 80 keer deur mense op Facebook gedeel.

“Dit is so mooi, Tyron, ek is seker sy is mal daaroor,” het ene Carnelle Vorster geskryf.

Selfs mense wat Tyron nie ken nie, het hom probeer bemoedig.

“Ek ken jou ook nie, Tyrone, maar wil net ook vir jou sê sterkte en mag jou geloof jou deur die moeilike tyd dra . . .jou musiekstuk is awesome (sic),” het Lee-Ann Wilson in die kommentaar-afdeling onder die video geskryf.

Simone Potgieter het geskryf: “Ty . . . Sy was bitter lief vir jou; dit was duidelik en ’n mens sê nooit goodbye nie, dis tot jy haar weer sien.”

Mundolene van Springs aan die Oos-Rand is Woensdagaand onder raaiselagtige omstandighede tydens ’n vakansie in Mauritius dood.

Tyrone het almal bedank wat gereageer en bemoedigende boodskappe gestuur het. “Ek mis jou so baie my liefie,” het hy saam met twee prentjies van gebreekte hartjies geskryf.

Volgens die L’express, ’n Franse nuusblad daar, het Mundolene saam met haar pa, stiefma en twee broers gaan vakansie hou.

Hoewel die presiese omstandighede rondom haar dood nog nie bevestig is nie, is berigte ontvang dat Mundolene se stiefma, Marietjie Vosloo, haar glo ná ’n rusie geslaan het. ’n Mauritiaanse polisiewoordvoerder het aan Huisgenoot bevestig dat Marietjie intussen aangekeer is. Sy word van manslag aangekla.