[caption id="attachment_122661" align="alignnone" width="600"]INLAS: Lee Ann en Peter Wayne Roberts. HOOFFOTO: Anahita Resort in Mauritius, waar Lee Ann Palmarozza dood is. FOTO: Verskaf INLAS: Lee Ann en Peter Wayne Roberts. HOOFFOTO: Anahita Resort in Mauritius, waar Lee Ann Palmarozza dood is. FOTO: Verskaf[/caption]

Die Suid-Afrikaanse miljoenêr is aangekla van die moord op Lee Ann Palmarozza, met wie hy drie jaar lank aan en af uitgegaan het, nadat die 35-jarige in Desember 2014 in ’n swembad in ’n oord in Mauritius dood gekry is.

Peter (41), wat sedert Lee Ann se dood op die eiland in aanhouding was, was vry om te gaan nadat sewe uit nege jurielede hom Dinsdag vrygespreek het.

Een van sy prokureurs‚ Marco Martini‚ het gesê Roberts “het ná die besluit reguit by die hof uitgestap”.

“Daar is baie afbrekende en nadelige goed oor hom (Peter) berig en die hof het hom nou alle blaam onthef‚” het hy gesê.

Lees ook: Sylvester die rondloperleeu se lot beslis

Peter is op 2 Januarie op die Sir Seewoosagur Ramgoolam Internasionale Lughawe in hegtenis geneem nadat hy vir die polisie in Mauritius gesê het hy vertrek eers op 12 Januarie 2015, volgens ’n plaaslike koerant.

Die polisie het hom nie aanvanklik in hegtenis geneem nie en hom net gevra om vir ondervraging in die land te bly.

Die welgestelde sakeman, wat glo ’n villa in die oord op die eiland besit kompleet met ’n butler, privaat sjef, helikopter en boot, het Lee Ann se lyk in die swembad gekry. Hy het vir die polisie gesê hy het gaan stort en het haar agterna gaan soek toe hy haar nie kon kry nie, en het op haar lyk in die swembad afgekom.

Ashley Victor‚ skakelbeampte vir die eiland se direkteur van openbare vervolging, het tydens Peter se verhoor verlede jaar gesê die vervolging het kringtelevisiemateriaal wat toon Peter en Lee Ann baklei, en dat sy hom in die openbaar geklap het.

Peter het volgehou Lee Ann, wat die ma was van ’n agtjarige dogter, Danté, het verdrink terwyl hy na sy kamer teruggegaan het.

’n Lykskouing het getoon sy is dood aan versmoring en het kneusplekke aan haar kop en keel en inwendige bloeding gehad. Destyds het Peter dit daaraan toegeskryf dat sy geval het toe hulle vroeër die aand gedans het.

Toe sy in Januarie 2015 met Huisgenoot praat, het Lee Ann se ma, Santa Haye (52), gesê Lee Ann het op Gesinsdag in 2014 by Peter op Mauritius aangesluit om hul verhouding te beëindig.

Volgens Lee Ann se pa, Jack Haye (51), was Peter gereeld weke lank op sakereise weg en het hy alleen gaan vakansie hou. Lee Ann was ongelukkig daaroor, sê Jack. “Sy wou meer uit die verhouding gehad het. Dit het uit haar mond gekom.

“Sy was elke dag alleen in die groot herehuis. Hy het vir haar gesê hy is ’n sakeman en sy moet verstaan. Ek weet nie of daar in daardie stadium ’n rusie was nie. Hy het vir haar gesê sy moet (uit die huis trek) en dat hy nie sou terugkom tot sy uitgetrek het nie.”

Lees ook: Man oorleef wonderbaarlik nadat hy glo van Kaapse brug gegooi is

Peter het hulle om halfdrie die oggend op 30 Desember 2015 gebel. Hy het gesê Lee Ann het verdink.

Santa het ’n paniekaanval gekry toe sy die nuus hoor. “Hy het vir my gesê daar was ’n groot ongeluk. Hy het baie kalm geklink. Ek het gedink sy het dalk seergekry en ek het hom gevra wat skort. Hy het gesê Lee Ann het verdrink en hulle het haar ’n driekwartier lank probeer bybring.”

Twee uur tevore het hulle opgestaan om Danté te kalmeer, het Santa vertel. “Sy het opgespring en die kombers gegryp en geskree: ‘Nee, nee, moenie.’ Dit was asof haar ma daardie oomblik met haar kontak gemaak het.”

Niemand was vir Lee Ann belangriker as haar dogter nie. Sy woon nou by Santa en Jack.

“Ons het vir Danté gesê Jesus kom een keer per week en kies engele,” het haar ouma gesê.

“Ons het vir haar gesê Hy het haar ma gekies, wat saam met Hom gegaan het. Ons het vir haar gesê haar ma het in die swembad aan die slaap geraak.”

Sy het destyds dikwels briefies aan haar ma geskryf.

“Sy het gesê as sy nie stout was nie of geluister het, sou haar ma nog hier gewees het.”

– Kirstin Buick

Ekstra bronne: Timeslive.co.za, Islandcrisis.net

Ander stories op Huisgenoot.com

Kleuter in die pad veroorsaak ontstellende vragmotorongeluk

Klop só lag-lag jou hoofpyn

Gucci-advertensie verbied oor ‘ongesond maer’ model

‘Vet Vincent’ die worshond skud die kilo’s af – en jou troeteldier kan ook

102-jarige vrou stralend oor graad wat sy ontvang 60 jaar nadat sy daarmee begin het

Aantal tiere wêreldwyd styg eerste keer in ? eeu

Hulp vir deurmekaar kiesers ná adres-SMS oor munispale verkiesing