’n Reünie van Friends gaan onvolledig wees, want Matthew Perry gaan nie saam met sy eertydse medeakteurs ’n verskyning kan maak nie.

Robert Greenblatt, die vermaakvoorsitter van die Amerikaanse netwerk NBC, het Woensdag bekendgemaak die geliefde sitkom se ses sterre – Matthew, Jennifer Aniston, Lisa Kudrow, Courteney Cox, David Schwimmer en Matt LeBlanc – sal herenig vir ’n spesiale TV-uitsending om hulde aan die komedieregisseur James Burrows te bring.

Tydens sy groot onthulling het Robert opgemerk: “Hoop hulle al ses sal terselfdertyd in dieselfde vertrek wees, maar ek is nie seker of ons dit sal kan regkry nie.”

Maar gister is aanhangers wat op ’n voltallige hereniging gehoop het, teleurgestel toe ’n verteenwoordiger van Matthew bevestig hy sal nie by die plegtigheid in Los Angeles kan verskyn nie vanweë verpligtings in Brittanje.

“Matthew sal dit nie bywoon nie, want hy is in Londen besig met repetisies vir sy verhoogstuk The End of Longing, waarvan voorvertonings op 2 Februarie in die Playhouse Theatre begin,” het sy verteenwoordiger in ’n verklaring gesê.

“NBC se base was daarvan bewus voor hul aankondiging gister. Matthew neem dalk iets op vir die huldeblyk. Met ander woorde, dit is nie die reünie waarop mense gehoop het nie.”

Matthew het die afgelope maand met repetisies vir die verhoogstuk begin en sal sy debuut as ’n dramaturg maak wanneer sy donker komedie in Februarie in Londen se West End op die planke kom.

Lees ook: Hoe goed ken jy die reeks Friends?

Intussen sal die James Burrows-huldeblyk, wat ook ’n hereniging sal behels van die akteurs van Will and Grace, op 24 Januarie opgeneem en volgende maand in Amerika uitgesaai word.

© Cover Media