Matt Damon voel gelukkig dat hy op ’n “burgerlike” verlief geraak het, want hy sou dit verpes het om lid van ’n hoëprofielpaartjie te wees.

Die akteur is in 2005 met die voormalige kroegkelnerin Luciana Barroso getroud en hulle het vier dogters. Matt erken hy is verlig hy het nie soos sy goeie vriend Brad Pitt sy hart op ’n glansmens verloor nie. Brad is verloof aan die aktrise Angelina Jolie en hulle het ses kinders.

In ’n onderhoud met die tydskrif Esquire het hy gesê: “Ek was gelukkig. Ek het op ’n burgerlike verlief geraak. Nie ’n aktrise nie en nie ’n bekende aktrise nie, want dan verdubbel die aandag. Dit neem eksponensieel toe.

“Ek kyk al jare lank na Brad en wanneer ek by hom is, sien ek die intensiteit van daardie ander kant . . . die paparazzi en hul gekke vlak van aggressie en bereidheid om die wet te oortree en sy ruimte binne te dring.

“Ek wonder oor daardie bedryf. Ek onthou sy gesig het geval toe ek eenkeer sê ek stap saam met my kinders skool toe. Hy was baie vriendelik, maar hy het gesê: ‘Jou bliksem.’

“Want hy kan dit nie doen nie.”

Matt (42) het ook erken hy slaag daarin om die paparazzi te ontwyk, want hy is nie juis interessant nie.

Hy het verduidelik: “As ek nie op ’n kroegtoonbank op en af spring, iets aan die brand steek of my vrou verkul nie, is daar nie eintlik ’n storie om te vertel nie. Hulle kan my probeer dophou, maar hulle gaan altyd dieselfde storie kry van middeljarige, getroude ou met vier kinders.”