Matt Damon en sy vrou het ’n ooreenkoms dat hulle nooit langer as 15 dae van mekaar af weg sal wees nie.

Die Elysium-akteur mis sy vrou van agt jaar, Luciana Barroso, en hul dogters, Alexia (14), Isabella (6), Gia (4) en Stella (2), so baie wanneer hy met werk weg is dat die egpaar mekaar belowe het om nooit langer as twee weke en ’n dag van mekaar af weg te wees nie.

Matt (42) het gesê: “Ek en my vrou het ’n reël van maksimum 15 dae weg van mekaar, en ons verbreek dit nooit nie. Hoewel . . . ek het dit eintlik pas verbreek deur 16 dae lank van my vrou en dogters af weg te wees. Dit was heeltemal te lank. Van die ouderdom van 40 raak tyd kosbaar, en enige verwydering van my gesin is baie moeilik.”

Matt het ook openlik gepraat oor sy “broemanse” met Ben Affleck (41), met wie hy al jare lank saamwerk en wat hy een van die belangrikste mense in sy lewe noem.

Matt, wat die Oscar-bekroonde Good Will Hunting saam met Ben geskryf en ook saam met hom daarin gespeel het, het aan die Franse tydskrif Madame Figaro gesê: “Ons is bure in Los Angeles, ons vroue sien mekaar gereeld en ons werk gedurig saam, omring deur ons goeie vriende en medewerkers wat ons met al ons projekte help. Sy mening is vir my baie waardevol.”