Die 53-jarige ster het die Britse prokureur Amal Alamuddin verlede maand die jawoord gevra, en al het party vermoed hy gaan Brad Pitt vra om sy strooijonker te wees, het dit nou bekend geword dat hy eerder sy medester in The Monuments Men gevra het.

’n Bron het aan die koerant The Sun gesê: “Baie mense het gedink Brad is vir seker George se hoofstrooijonker omdat hulle al jare lank vriende is. Maar hy en Matt is dalk selfs hegter vriende.

“Hulle het jare gelede een aand saam gekuier, en George het Matt belowe dat hy die eer sou kry as hy ooit weer sou trou. Matt het hom toe gebel en daaraan herinner.”

Brad (50) was saam met Matt (43) en George in die fliek Ocean’s Eleven en die opvolgflieks, en baie dink die hartebreker gaan daar wees om albei sy pelle te ondersteun.

Die bron het bygevoeg: “Brad het die nuus goed gevat, maar hy het gesê hy gaan Matt tydens sy toespraak tart.”

George beplan glo om Amal ’n droomtroue te gee – hulle wil in September afhaak by sy huis langs die Como-meer in Italië of in Cabo San Lucas, Mexiko. Daarna gaan George Londen toe trek sodat Amal haar werk by Doughty Street Chambers kan voortsit.