. Die ster van Elysium het geskerts sy medester in Ocean’s 11 is die volmaakte man en hy doen alles in sy vermoë om nes Brad (49) te wees. “Ek wy my hele lewe daaraan om soos Brad Pitt te wees,” het hy onlangs gesê aan Matt Lauer, die aanbieder van die program Today.

Matt het ook vertel hy en sy vrou, Luciana Barroso, wat in 2005 getrou het en vier dogters, Alexia (14), Isabella (6), Gia (4) en die tweejarige Stella, het, wil dalk uit New York Los Angeles toe trek, maar is nog onseker oor die besluit.

“Al ons vriende met jong kinders woon daar. Ons is ’n bietjie in twee geskeur daaroor. Ons is mal oor die lewe hier; ons is baie gelukkig hier en New York sal altyd hier wees. Dalk gaan ons net vir ’n rukkie soontoe en kom dan weer terug. Dis moeilik om van hier weg te trek.”

Hoewel Matt Brad wil naboots, het hy al tevore gesê hy is verlig dat hy nie op ’n ander bekende verlief geraak het soos Brad op Angelina Jolie nie. Oor sy huwelik met Luciana, ’n voormalige kelnerin, het hy gesê: “Ek was gelukkig. Ek het op ’n gewone burger verlief geraak, nie ’n beroemde aktrise nie, want dan trek jy aansienlik meer aandag.

“Ek kyk na Brad en sien al jare wanneer ek saam met hom is, hoe intens die lewe in die kollig is. Die paparazzi en die waansinnige vlak van aggressie wat hulle het en hoe hulle die wet sal oortree en sy persoonlike ruimte sal binnedring. Ek wonder daaroor. Ek onthou, ek het hom eendag vertel ek stap saam met my kinders skool toe en sy gesigsuitdrukking het verander. Hy behoort dit ook te kan doen, maar kan nie.”