Dis is amper daardie tyd van die jaar wanneer matrieks en hul ouers se senuwees begin knaag oor die matriekuitslae wat binnekort bekendgemaak word.

Soms is die uitslae nie so goed soos wat ’n mens graag sou wou gehad het nie. Hoe dan gemaak?

Cornel Verwey, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad, sê dit is verstaanbaar dat graad 12-leerders geraak kan word deur slegte uitslae. “Dit is die einde van ’n 12 jaar lange proses wat op die ou end in dié uitslae saamgevat word.

“Dikwels moet matrieks die ekstra las van hul families se drome en verwagtings saamdra,” benadruk sy die las wat op matriekleerders se skouers geplaas word om goed te doen.

Cornel gee die volgende wenke vir ouers om ’n matriekleerder by te staan om eksamenuitslae te hanteer:

  • Dit is ’n goeie beginpunt om nie te verwys na “dop” of “druip” nie. Indien jou kind ’n vak nie deurgekom het nie, verwys eerder na “punte wat nie so goed lyk nie” as om te sê hy of sy het “gedruip”. Dis ’n sterk, negatiewe woord wat die situasie kan vererger.
  • Sosiale bystand: Dit beteken nie noodwendig om die probleem reg te stel nie, maar bloot om daar te wees vir ondersteuning. ’n Kind moet bewus wees dat sy of haar ouers daar is vir morele ondersteuning.
  • Om raad te gee is nie altyd die beste oplossing nie, soms moet ’n ouer net daar wees om te luister. Elke kind hanteer ’n negatiewe situasie op hul eie manier.
  • Ouers moet onthou dat hul kind se matriekuitslae net die begin van hulle loopbaan is. As dit nie na wense is nie, moenie vergeet om die groter prentjie in gedagte te hou nie.
  • Onthou dit is nie die einde van die wêreld as jou kind nie geslaag het nie.
  • Ouers moet oppas om hulle kinders te vinnig te wil prober opbeur. Gee hulle kans om die punte te verwerk as dit nie so goed is soos wat hulle graag sou wou hê nie.

Amber Kriel