Die lang gewag is verby. Matrieks wat die afgelope vakansie naels gebyt het oor hul punte, sal binnekort weet of dit verniet was of nie.

Die nasionale en provinsiale matriekslaagsyfers word vanmiddag sesuur op televisie bekendgemaak.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, sal die aankondiging op ’n spesiale program op SABC1 doen, wat vieruur begin. Die tegniese verslag oor die eksamen sal eers bespreek word.

Leerders sal tot môre moet wag om hul individuele uitslag te ontvang. Hulle kan dit gaan haal by hul skool of die eksamensentrum waar hulle geskryf het.

Die wat nie kan wag nie, kan dit van sesuur die oggend af op die departement se webtuiste kry (www.education.gov.za); al wat hulle byderhand moet hê, is hul eksamennommer.

As hulle dit per SMS wil kry, kan hulle vandag al vir die SABC se matriekuitslagdiens registreer deur ’n SMS met hul ID-nommer en eksamennommer na 35658 te stuur. Elke SMS kos R3.