ELKE motor wat aangery kom, is blink gepoets vir die groot aand – veteraankarre, moderne, luukse motors en selfs ’n tradisionele riksja maak elkeen ’n swierige draai voor die rooi tapyt om hul deftige passasiers af te laai.

’n Spierwit stasiewa kom stadig om die draai.

Eers toe dit by die rooi tapyt kom, sien jy die vier somber manne in gelid agter die voertuig aangestap kom.

Dan vang jou oog die emblem op die paneelwa: Egoli Begrafnisondernemers.

Die groepie mense wat om die tapyt by die matriekafskeid van die Hoërskool Hartbeespoort saamdrom, begin onderlangs fluister. Die volgende oomblik gaan die lykswa se deur oop en kan hulle die pikswart kis binne-in sien.

“Kyk, Mamma, dis ’n doodskis,” roep ’n seuntjie uit en ’n vrou wonder kliphard wat gaan dan nou aan . . .

Die vier mans skuif die kis uit die lykswa en lig dit dan stadig van sy wieletjies op en draai dit regop. “Versigtig,” sê een saggies en iewers vra ’n vrou die vraag waaroor almal wonder: “Is daar dan iemand in die kis?”

Die spanning laai op en die mense hou asem op. Dan swaai die kisdeksel oop en ’n beeldskone meisie kom uitgestap.

Lees die volledige artikel en sien meer foto's in die Huisgenoot van 14 Oktober 2010