Haar broer het nooit die kans gekry om ná skool te studeer nie, maar noudat sy “eerste famous geraak het”, het sy groot planne.

Te midde van verlede jaar se swak matriekuitslae was Lericia Bailey (19) een van die uitsonderlike suksesverhale.

Sy het albei haar ouers verloor, het in ’n stadium op straat gewoon en moet ma speel vir haar jonger broer, Sherwin (16), en suster, Chesree-Lee (11). Hulle woon in ’n opslaanhuisie in die bendegeteisterde Manenberg op die Kaapse Vlakte en oorleef op ouboet Lorenzo (21) se salaris as werker by ’n oproepsentrum.

Dis moeilike omstandighede, maar sy het haar matriek goed geslaag en ’n beurs losgeslaan.

Lericia begin binnekort met ’n vierjaarkursus in sakebestuur aan die Tersiêre Skool in Besigheidsadministrasie (Tsiba) in Kaapstad, wat haar ’n studiebeurs van R40 000 aangebied het. Haar beste punte was 79 persent vir lewensoriëntering en 76 persent vir Afrikaans.

Haar verhaal het ook die mense van die Red Door-projek, wat entrepreneurs help om hul eie ondernemings te begin, laat regop sit, en in Februarie lewer sy vir hulle ’n praatjie oor haar ervarings.

“Ek dink veral vroue in my gemeenskap moet sien hoe ander vroue die inisiatief neem en hul eie onderneming begin.”

Sy weet harde werk lê voor. “Die eerste jaar is baie belangrik, want dis wanneer die meeste kinders opskop,” sê sy.

Lees meer oor Lericia in die Huisgenoot van 28 Januarie 2010.