Sy was die verpersoonliking van gesondheid – ’n fikse atleet wat die internasionale tennisbane ’n ongelooflike 31 jaar lank regeer het.

Sy het gesond geëet, nooit gerook nie en beswaarlik haar mond aan alkohol gesit.

Dus was die skok soveel groter toe Martina Navratilova (53), wat die Wimbledon-titel nege keer gewen het, bekendgemaak het dat sy borskanker het.

Die Tsjeggiese sportlegende vertel sy was self stomgeslaan. “Ek het gedink: Dis belaglik. Ek is my lewe lank al gesond en ewe skielik het ek kanker. Jy maak seker ’n grap?

“In my loopbaan het ek teen ’n paar moeilike teenstanders op die tennisbaan te staan gekom – Steffi Graf, Monica Seles, selfs die Williams-susters in dubbelspelwedstryde – maar ek sou nooit kon dink dat my gedugste teenstander van die tennisbaan af sou wees nie – kanker.”

Martina is een van meer as ’n miljoen vroue wêreldwyd, onder wie 8 000 Suid-Afrikaners, by wie jaarliks borskanker gediagnoseer word.

Dis wêreldwyd die algemeenste soort kanker onder vroue en die hoofoorsaak van kankersterftes by vroue.

En die wagwoord vir genesing bly dieselfde – vroeë opsporing.

Martina se geval illustreer dit net weer. Die tenniskampioen het vier jaar laas ’n mammogram gehad, en toe word ’n kankergewas in Januarie in ’n roetine-ondersoek ontdek.

Lees meer oor Martina se stryd en oor borskanker in die Huisgenoot van 22 April 2010