’n Student aan die Universiteit Stellenbosch is Dinsdagaand voor haar koshuis aangeval en met ’n mes gesteek.

Die vrouestudent is glo gisteraand omstreeks tienuur voor die Lydia-vrouekoshuis in Hofmeyerstraat deur ’n onbekende man in die bors gesteek.

Paula-Ann Smit, ’n ooggetuie, het aan Matiemedia gesê die student was glo reeds naby die koshuis se voordeur toe ’n wit BMW sonder nommerplaat langs haar stilhou. ’n Man het uit die motor geklim en haar begin aanval.

Hy het haar glo met ’n mes in die bors gesteek en probeer om haar skootrekenaar en selfoon te steel.

Die student ondergaan mediese behandeling in ’n plaaslike hospitaal. Sy is glo erg ontsteld ná die voorval.

Martin Viljoen, ’n woordvoerder aan die Universiteit Stellenbosch, het in ’n verklaring gesê die onbekende man het nie die student se selfoon en skootrekenaar gesteel nie.

Die studenteraad het studente op Facebook gemaan om versigtig te wees en van die kampus se sekuriteitsdienste gebruik te maak.