DIE dokter se eerlike mening was dat hy nooit weer sou loop nie, en sy duisende aanhangers en mede-kunstenaars het gevrees sy dae van kitaar speel en sing is vir altyd verby.

Maar toe het die verlamde sanger Mathys Roets sy eerste mikpunt gestel: Hy sou self eet, en hy sou sy eie tande borsel. En vandag, 14 maande ná daardie dag toe sy motorfiets in die Vrystaat van die pad geloop het, het  Mathys dié mikpunte en al die ander wat hy sedertdien vir homself gestel het, met lof behaal.

Hy is terug op die verhoog, sy dagboek is vol bespreek, hy bestuur self motor, sleep selfs sy eie woonwa en kom heel goed op sy eie oor die weg. Nou is sy oë op die volgende uitdaging gefokus: ski-lesse en ’n ski-vakansie in Oostenryk!

Maar eers is daar ’n ander prestasie om te vier: Sy outobiografie, Steeds Mathys, is volgende maand in die winkels.

Dit het vir hom gevoel asof hy van buite na homself kyk terwyl hy besig was om sy lewensverhaal aan die spookskrywer, Alita Vorster, te vertel, erken hy. “Soos in ’n spieël. Die hele proses was eintlik ook een van heling. Dit het my baie gehelp om ander perspektiewe op my lewe te kry.”

Daarom kan hy ook nou vir die eerste keer openlik gesels oor sy huwelik van 10 jaar met Karen wat kort voor sy ongeluk in die skeihof geëindig het. Dis iets waaroor hy tog spyt is.

“’n Mens moet altyd spyt wees as jy dinge opneuk,” sê hy nadenkend. Maar hy was nie vuil wasgoed in die openbaar nie. Ook nie in sy outobiografie nie.

“Wanneer ’n huwelik misluk, is ’n mens te geneig om al die skuld op die ander persoon te pak. Maar dit werk nie so nie.

Albei partye maak foute – daar is ’n gedeelde verantwoordelikheid vir die mislukking.” En vandag kan hy en Karen oor ’n koppie koffie oor dié foute sit en gesels.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 1 Julie 2010