Hy word in afsondering aangehou omdat hy 77 mense vermoor het in bom- en skietaanvalle wat Noorweë in 2011 geskok het.

Toe hy Dinsdag die eerste keer in die openbare oog verskyn sedert hy vier jaar gelede skuldig bevind is, het die 37-jarige Noorweër en sy prokureurs ’n regter probeer oortuig sy tronktoestande is “onmenslik” en strydig met die Europese Konvensie van Menseregte (EKMR).

Die regering het sy bewerings verwerp en sê hy word menslik en met waardigheid behandel ten spyte van die erns van sy misdade. Breivik, geklee in ’n donker pak en met ’n kaalgeskeerde kop, is by die gim in die Skien-tronk ingelei wat in ’n hofsaal omskep is. Die verhoor vind om veiligheidsredes daar plaas. Nadat tronkbewaarders sy handboeie afgehaal het, het hy na joernaliste gedraai wat oor die verhoor skryf en sy regterarm in ’n Nazi-saluut uitgestrek. Hy het uitdrukkingloos ’n paar sekondes daar gebly terwyl wagte ledig rondgestaan en sy prokureur, Oystein Storrvik, senuagtig ’n sluk water gedrink het. Baie oorlewendes en familielede van slagoffers het die hofsaak probeer ignoreer uit vrees dat dit emosionele wonde weer kan oopkrap. Hulle wil nie hê Breivik moet nog aandag kry nie. Tog het party in ’n hofgebou in Oslo na ’n heruitsending van die verrigtings gekyk.

“Dis pateties; dis ’n klug,” sê Lisbeth Royneland, wie se 18-jarige dogter, Synne, in Breivik se aanval op die eiland Utoya dood is. Lisbeth is nou aan die hoof van ’n steungroep vir oorlewendes en treurendes.

In die geweld wat Noorweë geskok het, het Breivik op 22 Julie 2011 ’n bom in Oslo se regeringsdistrik laat ontplof en toe die slagting uitgevoer by die jaarlikse somerkamp van die linkse Arbeidersparty se jeugorganisasie op Utoya.

Hy is tot 21 jaar tronkstraf gevonnis, die maksimum kragtens Noorse wetgewing, maar dit kan verleng word mits hy as ’n gevaar vir die samelewing beskou word. Selfs sy prokureur het Dinsdag gesê dit beteken Breivik sal waarskynlik die res van sy lewe aangehou word.

Tydens sy verhoor vier jaar gelede het Breivik by die hof ingestap met sy eie saluut – ’n gebalde vuis pleks van die uitgestrekte hand waarmee die Nazi’s Adolf Hitler gegroet het. Destyds het Breivik homself beskryf as ’n hedendaagse kruisvaarder wat veg om Noorweë en Europa teen Moslem-immigrasie te beskerm.

In briewe wat hy uit die tronk aan die media gestuur het, sê Brevik hy het sy gewapende stryd laat vaar en wil nou ’n fascistiese beweging stig terwyl hy sy vonnis uitdien.

Voor die verhoor begin het, het Oystein gesê die doel van die saak is om Breivik se toestand in die tronk te verbeter, onder meer om hom met ander gevangenes te laat meng en van die beperkings op sy korrespondensie per pos te skrap.

“Dit is wat ons wil hê, want die toestande is nou moeilik,” het Oystein aan die nuusagentskap Associated Press gesê.

Breivik word aangehou as die enigste gevangene in ’n hoësekuriteitvleuel van die Skien-tronk sowat 100 km suidoos van Oslo. Hy mag per pos korrespondeer, maar dit word streng beheer en hy mag nie met ander regse ekstremiste kommunikeer nie.

Die regering sê die beperkings voldoen aan die menseregtekonvensie en is noodsaaklik om te sorg dat Breivik nie ekstremiste-netwerke vanuit die tronk kan opbou nie.

Breivik sal die hof Woensdag toespreek. Albei kante sal getuies roep voor die slotbetoë Vrydag plaasvind. Die uitspraak word sowat ’n maand later verwag.

Bron: Al Jazeera

Lees ook op Huisgenoot.com:

George-man kry 37 keer lewenslange tronkstraf ná hy dogter se maats verkrag

Kyk watter sangeres verjaar vandag!

Só gaan dit deesdae met Ben en Jen

Avonturier Riaan Manser se Vasti beleef teëspoed tydens Cape Epic

Almal se gunsteling-‘prinses’ binnekort weer op die silwerdoek

Inge Lotz-moord spook elf jaar later nog

Oefening douvoordag hou jou viets

Taylor Swift en Calvin Harris al te danig op tropiese eiland