’n Platsak jong boerseun van Pretoria, wat met die reënweer die afgelope naweek die sakegeleentheid aangegryp het om pannekoekbestellings te neem, se plasing op ’n Facebook-groep met sy nagenoeg 34 000 lede het Saterdag in ’n groot herrie ontaard toe die admin van die groep hom afskop.

[caption id="attachment_153530" align="aligncenter" width="550"]xx Rolan van Moreletapark in Pretoria het nie besef hy oortree die Facebookgroep se reëls nie. Foto: Verskaf[/caption]

Rolan Coetzee (22) van Moreletapark, wat in 2016 sy graad in tekstielontwerp en –tegnologie, klaargemaak het, het nie besef dit is teen die groep se reëls om op enige dag behalwe Maandae en Vrydae advertensies te plaas nie.

Rolan vertel hy het vanjaar gou besef dit is nie so maklik om sonder enige ervaring ’n werk los te slaan nie. “Ek het dus besluit om pannekoek, wafels en koeksusters te begin bak sodat ek nie by ’n verkeerslig hoef te gaan bedel vir geld of honger te gaan slaap nie.”

Volgens Rolan het hy Vrydag kort nadat hy die idee gekry het “om die vaardighede wat sy ouers vir hom geleer het” te benut, sy eerste advertensie op die groep Ek’s van die Ooste geplaas.

rolanplasing6

“Ek was opgewonde en het nogal baie bestellings gekry,” vertel hy. Hy het nie besef toe hy Saterdag die advertensie weer plaas dit is teen die groep se reëls nie.

“Ek was nogal ontsteld toe ek sien hulle het met my afgehaal.”

Dit was toe dat Rolan, wie se pa, Johann, verlede jaar op sy 21 ste verjaardag aan ’n beroerte dood is, se ma, Linda Van Vuuren-Coetzee, haar tot die groep wend:

“Dankie Rolan Coetzee dat jy inisiatief aan die dag gelê het, ’n besigheidsgeleentheid opgeraap het toe jy die reën vanoggend hoor en skaars wakker was en dadelik begin pannekoek bak het om op 'n eerlike manier 'n geldjie te probeer verdien,” het sy geskryf.

“Ja, aan al die komplimente wat jy ontvang het van baie tevrede kliënte, is dit duidelik dat jy ’n wenresep beet het. Dis jammer dat jy nou die groepreëls oortree het en nou met voorraad en aangemaakte deeg sit omdat jy afgeskop is van Eks van die Ooste af.

"Ek besef die reëls kan vir niemand gebuig word nie, nie eers vir 'n kind wat sy hande stompies gewerk het vir sy graad en skielik moet besef hy sal self 'n plan vir 'n werk moet maak nie. Dis tog jammer dat mens nie pannekoek-weer kan bestel op die dae wat dit wettig geadverteer mag word nie. Ek sê maar net.

"Ek weet admin moes hom straf maar ai, om te sien hoe sy geesdrif geblus word was nogal moeilik vir my as sy ma.”

Gou het ontstoke lede vir Rolan begin opkom.

“Ag siestog, nee, dit is jammer. Kan admin hom nie maar vergewe en terugsit nie?” het Jeanne Olivier gepleit.

“Ek voel net mense kla altyd kinders doen niks nou kry 'n seun 'n idee vir n geldjie en nou dit kyk ek baklei nie, maar ai toggie dis sulke wonderlike weer vir pannekoek gee my sommer 'n idee om te maak .. Mevrou, jy het ’n goeie seun,” het Tina Vermaak laat weet.

Gelukkig het die admin dit in goeie gees hanteer en Rolan weer op die groep gesit. Intussen het hy hy sy eie Facebook-groep, Boerseun Lekkernye, geskep. Die groep het teen Maandag meer as 700 lede gehad.

'n Uitgeputte Rolan het Maandag Huisgenoot vertel hy het Saterdag eindelik in nege ure meer as ’n 1000 pannekoeke gebak. Een groeplid het kort voor 20:00 sy hele laaste baksel pannekoeke kom haal. Sondag was hy weer nege ure agter die panne.

[caption id="attachment_153533" align="aligncenter" width="550"]Rolan het intussen sy eie groep begin. Foto: Verskaf Rolan het intussen sy eie groep begin. Foto: Verskaf[/caption]

“As die lewe jou ’n klap gee, staan weer op,” het hy die groeplede later bedank. “Dit was net die hupstoot wat nodig was om my Boerseun-groep die lig te laat sien. Dankie vir die admins wat bereid was om my 'n tweede kans te gee. Ná vandag se verkope kon ek al my bestanddele betaal en het genoeg oor om môre na kerk weer weg te spring.”

Rolan, wat as jong seun “saam met die kerk tannies” leer pannekoek bak het, vertel selfs al kry hy vanjaar ’n goeie werk sal hy steeds aanhou bak.