Owerhede in Johannesburg het Woensdag ’n beroep op ouers en versorgers gedoen om seker te maak dat hul kinders ingeënt word. Dit volg ná ’n waarskuwing vir masels vroeër uitgereik is.

kindersiektes_hg-en-you
"Ouers en gemeenskapslede kan help om die verspreiding van masels te bekamp deur te sorg dat kinders op die regte ouderdom ingeënt word," het die burgemeesterskomitee se raadslid vir gesondheid, Mpho Phalatse, Woensdag gesê.

"Enige kind wat moontlik masels het moet ook dadelik na die naaste gesondeidsinstelling geneem word vir 'n ondersoek."

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het in Januarie vanjaar 'n kennisgewing uitgestuur nadat heelwat kinders in Stellenbosch masels gekry het.

Nege gevalle van masels is tot dusver in Johannesburg aangemeld, het owerhede bygevoeg. Die groep met die grootste kans om masels te kry, is kinders wat nie ingeënt is nie en swanger vroue.

Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie is masels een van die voorste oorsake van dood onder kinders, selfs al is ’n bekostigbare en doeltreffende entstof beskikbaar, het Phalatse gesê.

"Inentings teen masels het tussen 2000 en 2015 sowat 20,3 miljoen sterftes wêreldwyd gekeer."

Bron: News24