’n Masels-epidemie het op Stellenbosch uitgebreek, maar is onder beheer, sê die Wes-Kaapse departement van gesondheid.

[caption id="attachment_116373" align="alignnone" width="600"]Foto: http://www.torange.us/ Foto: http://www.torange.us/[/caption]

Vyf voorvalle van die siekte is by ’n skool op die dorp aangemeld.

“Hierdie gevalle het die nodige mediese behandeling gekry en die pasiënte is besig om te herstel,” het die departement in ’n verklaring gesê.

“Masels is ’n siekte wat aangemeld moet word en alle voorvalle moet ondersoek word. Dit is belangrik dat dié soort siektes onmiddellik aangemeld word sodat dit nie versprei nie.”

Die departement is tans besig om die voorvalle op te volg en inentings word aangebied vir diegene wat met hulle in kontak was en die risiko loop om die siekte op te doen. Afhangend van die aantal voorvalle sal die departement massa-inentings by skole en instansies doen.

Enigiemand wat vermoed hul kind het masels opgedoen, moet hulle so gou moontlik na hul naaste dokter of kliniek neem.

Simptome van masels kom gewoonlik binne 14 dae voor nadat jy aan die virus blootgestel is.

Dit sluit in:

  • Hoes, koors, rooi oë, ligsensitiwiteit, spierpyn, loopneus, ’n seer keel en wit kolletjies in die mond.
  • ’n Verspreide uitslag op die vel is gewoonlik ’n tipiese teken van masels. Die uitslag kan tot sewe dae duur en verskyn gewoonlik binne die eerste drie tot vyf dae vandat jy aan die virus blootgestel is.
  • Die uitslag wat as rooi, jeukerige knoppies voorkom, ontwikkel gewoonlik op die kop en versprei na ander dele van die lyf.
  • Masels kan gevaarlike newe-effekte hê, soos infeksie van die longe en blindheid en kan selfs tot die dood lei.

Sorg só tuis vir jou kind as hy masels het:

  • Isoleer hom van ander mense om te keer dat die siekte versprei.
  • Hou hom geïsoleerd vir minstens vier dae ná die eerste tekens van die uitslag verskyn het.
  • Hou hom in 'n donker kamer, weg van sonlig.
  • Bedien baie vloeistof en gesonde kos.

Bykomende bron: Healthline.com