Praat jy met jou dogter oor hoe haar liggaam werk, haar maandstonde en die moontlike gevolge van seks? ’n Onlangse opname toon dit is uiters belangrik dat jy dit doen.

Die Kotex Makeover Project Mxit om tienermeisies vrae te vra oor hul maandstonde, seks, swangerskap en seksueel oordraagbare siektes. Sr. Burgie Ireland, ’n geregistreerde verpleegsuster en vroedvrou van die Suid-Afrikaanse Verpleegstersraad, het oor ’n paar maande heen met hierdie meisies gesels.

Sy sê haar interaksies met hierdie jong vroue het die klem geplaas op die behoefte aan meer inligting, kommunikasie en ondersteuning om hulle ingeligte keuses te help maak. “Die vrae was baie anders as dié wat ek in skole of openbare forums maak, waar ek die liggaam en seksualiteit bespreek. Meisies voel vry om op Mxit baie persoonlike vrae te vra omdat dit anoniem is,” sê sy.

“Ek raai ma’s sterk aan om met hul tienerdogters te praat oor hoe hul liggaam werk, hul maandstonde en die moontlike gevolge van seks, soos seksueel oordraagbare siektes, MIV en tienerswangerskap.”

Sy voeg by sy is verbaas oor hoe min vroue oor hul liggaam en menstruele siklus weet. “Die helfte van die navrae wat ek ontvang het, was oor maandstonde – wat oorslaan, of ongereeld, lank, kort en lig is. Een van my groot bekommernisse is dat ma’s te gou hul dogters dokter toe neem, waar hulle dan op die Pil gesit word om hul maandstonde te reguleer,” sê sy.

’n Siklus (van die eerste dag van een maandstonde tot die eerste dag van die volgende een) kan wissel tussen 21 en 60 dae; die gemiddeld is 28 dae. Dit is normaal dat jong meisies se maandstonde, veral in die eerste twee jaar, nie gereeld gaan wees nie. “Baie vroue het nooit ‘gereelde’ siklusse nie; meisies moet verstaan dit is ook normaal,” sê sr. Burgie.

Haar benadering tot seks is onthouding. “Ek moedig jongmense aan om te fokus op hul studies en toekoms pleks daarvan dat hulle obsessief is oor die teenoorgestelde geslag en hoërisikogedrag openbaar. In gevalle hulle reeds seksueel aktief is, praat ek oor die moontlike gevolge soos seksueel oordraagbare siektes, swangerskap en die verantwoordelikheid van ouerskap.”

Op Mxit het dy vrae gekry soos “Ek het twee weke gelede seks gehad. Dink jy ek is swanger?” “Sulke vrae wys dat jongmense onnodige risiko’s neem sonder dat hulle al die feite weet. Ek het ook ontstellende kommentaar van tieners gekry wat voorstel hulle dink hulle is immuun teen MIV, seksueel oordraagbare siektes en swangerskap, sê sy.

Wat haar hartseer maak, is die voorkoms van jong meisies wat desperaat liefde soek. “Dit lei dikwels daartoe dat meisies seks vir liefde uitruil en omgekeerd. Wanneer meisies seks het, word twee hormone – dopamien en oksitosien (die liefdeshormone) – vrygestel, wat meisies emosioneel en fisiek geheg aan die seun laat voel, wat nie gereed is vir so ’n verhouding nie. Dit lei dikwels tot gebroke harte,” sê sy.

Boonop het baie jong meisies gesê hul kêrel moes hulle ompraat om seks te hê. “Ouers moet hul kinders vertel hulle hoef niks te doen wat hulle ongemaklik laat voel nie. Ek dink dit kom neer op kommunikasie, ’n liefdevolle gesinsomgewing en om kinders aan te moedig om hul drome na te jaag,” sê sr. Burgie.

Sy erken baie kinders word in disfunksionele omstandighede groot. “Ek verduidelik aan hierdie jongmense dat hulle nie hul ouers moet grootmaak nie en dat hulle nie die blaam vir hul ouers se besluite moet dra nie. Ek moedig hulle aan om iemand te vind om mee te praat wat hulle wys en verantwoordelik ag – soos ’n familielid, grootouer of onderwyser.”