Kry jy soms gedagtes wat jy voor jy siel weet jy nie met ander ma’s of jou vriendinne kan deel nie omdat hulle dalk sal dink jy is ’n mislukking as ma? Wat sal jy graag teenoor ander ouers wou erken as jy dit anoniem kon doen?

Die skrywer Julia Fierro het ’n Tumblr-blad, Parenting Confessional, geskep waar ouers bekentenisse anoniem kan plaas.

“Ons almal weet hoe streng ouers, veral ma’s, soms met hulself kan wees. Om jou sogenaamde mislukkings as ouer te erken voel na ’n groot risiko, asof jy ander innooi om jou sukses as ouer te meet,” het Julia aan Huffington Post gesê. “My aanvanklike droom vir die blad was dat dit ’n plek sal wees waar ouers stoom kan afblaas en kan onthou hulle is nie alleen nie deur ander ouers se bekentenisse te lees.”

Van die bekentenisse is grappig, maar daar is ’n hele paar wat ernstige kwessies aanroer. Kyk hier na ’n paar bekentenisse:

  1. “Ma’s wie se hele lewe om hul kinders draai, irriteer my. Dis die ma’s wat elke dag by die skool is, by elke geleentheid vrywillig help en dan daaroor spog op Facebook. Om ’n ma te wees is ’n groot deel van wie ek is, maar ek het ander belangstellings en ek hou daarvan om soms oor iets anders as my kinders te praat. Ek is baie dinge bo en behalwe ’n ma, en ek wil nie as gevolg daarvan soos ’n swak ma voel nie.”
  2. “Ek is ontsaglik lief vir my dogter, maar dit brand my siel dat sy nie slim is nie.”
  3. “Ek is redelik seker my man sal die huis en kinders baie goed sonder my kan hanteer – ek voel dat ek dit nooit sonder hom sal maak nie.
  4. “My man is skielik oorlede toe ons seun 3 maande oud was. Party dae voel ek asof ek my seun sal prysgee as dit sou beteken ek kan my man terugkry.”
  5. “Toe my kinders klein was het hulle my Wonder Woman-kostuum van jare gelede in my laai gekry. Ek het verduidelik hulle moet vroeg gaan slaap, want Ma is ’n superheld en moet teen misdaad gaan baklei, anders gaan die slegte ouens chaos veroorsaak. Dit het nie net gewerk nie – hulle was so trots dat hulle vir al hul vriende by die skool gaan vertel het.”
  6. “Ek het die meeste dae ’n gunstelingkind.”
  7. “By my 20-week-sonar het ek uitgevind ek dra ’n seun. Ek wou ’n dogter hê en het gedink dit is een. Ek het 4 maande lank gehuil. Tot vandag toe wens ek steeds hy was ’n meisie.”
  8. “Ek verpes dit om my kinders park toe te vat.”
  9. “Ek is lief vir my kinders. Ek is allergies vir almal anders s’n.”

10. “Ek het my seun vanaand gedwing om vir my verskoning te vra terwyl ek eintlik die een was wat verskoning moes vra.”

Gaan loer by parentingconfessional.tumblr.com vir nog bekentenisse, asook inligting oor hoe om jou eie bekentenis op die bladsy te plaas.

- Suzaan Hauman

Bronne: Tumblr, Huffingtonpost.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.