Die dood van Martin, Teresa en Rudi van Breda het met Suid-Afrika gepraat. So het ds. Willem Badenhorst vanoggend tydens die gedenkdiens gesê van die egpaar en hul oudste seun wat verlede week in hul huis op die luukse De Zalze-landgoed op Stellenbosch met ’n byl om die lewe gebring is.

Die Van Breda’s se gedenkdiens het in die NG kerk Moreletapark in Pretoria plaasgevind waar die gesin lank gewoon het voor hulle ’n paar jaar gelede na Australië verhuis het.

Die Van Breda’s se middelkind, Henri, was sover ons kon vasstel nie by die diens nie.

Willem het gesê die een ding wat ons “in die afgelope afgryslike dae” gesien het, was dat “die wenstreep enige oomblik kom”.

“Die dood skeur ’n stuk uit ’n mens se lewe. Dit is so finaal. Dit skeur ons los van ons verhoudings. Dit skeur ons los van mekaar.

“Die dood het ’n boodskap. Die dood wys ’n vinger. Die vraag wat die dood vra, is: Is jy reg vir die dood?” het Willem gesê.

Willem het gesê Martin, Teresa en Rudi het die ergste moontlike dood ervaar en dit is die grootste tragedie wat die families Van Breda en Du Toit (Teresa se familie) kan beleef.

Maar dat hulle nou vorentoe moet kyk, want Martin, Teresa en Rudi is in die hemel.

Oor Marli, die jongste Van Breda-kind, wat nog onder bewaking in die hospitaal is nadat sy ’n kopwond opgedoen het, het Willem gesê: “Marli, jy kan ons nie nou hoor nie. Jy sal later hoor as God jou wakker maak uit jou tydelike slaap.”

Rudi se meisie, Claire James, het ook die diens bygewoon - sy het van Australië gekom om afskeid van hom en sy gesin te neem.

Sy het dié roerende brief geskryf, wat in die begrafnisbriefie geplaas is:

bredabrief

- Hilda van Dyk