Hy is ’n ou bekende op Jacaranda FM en hou ook al geruime tyd sy lyf aanbieder op die gewilde VIA-program Wie’s My Liefie?

Nou spog Martin Bester met ’n splinternuwe musiekvideo vir sy derde enkelsnit, Sterre, vanaf sy soloalbum Vir die Eerste Keer.

Huisgenoot stel vandag eksklusief dié musiekvideo bekend:

“Ek is vreeslik dankbaar dat Sterre so goed ontvang is en dat dit reeds die derde enkelsnit is van my debuutalbum wat landwyd op radiostasies se treffersparades en speellyste boer!

“Daarom is dit nou die perfekte tyd om dit te vier met die uitreiking van die musiekvideo vir Sterre. Ek is mal oor die produksie en storielyn van die video.

“Partykeer is die ontdekkingstog van die liefde geheimsinnig en raaiselagtig, maar lê die antwoord tog reg voor jou. Wanneer jy die regte persoon vashou, voel dit net reg,” vertel Martin.

Martin vertel dis die eerste keer dat hy saam met die regisseur Tania van Twisk werk.

“Sy het dit baie gemaklik gemaak vir my op die stel en het van die begin af baie duidelikheid gehad oor wat sy wou doen met die musiekvideo. Ek het die interpretasie, storielyn en plek heeltemal in haar hande geplaas en was baie gelukkig met die uitkoms.

“Dit was vir my baie belangrik om saam met iemand te werk wat die ‘sprokiesverhaal met ’n kinkel’-aspek van die video sou raaksien en verfilm; dis beslis wat Tania en haar span reggekry het.”

Martin sê dis intussen lekker om die maatsoekprogram Wie’s My Liefie? op VIA aan te bied, veral wanneer hy mense bymekaarbring en hulle besluit om saam op ’n tweede afspraak te gaan.

“Daardie eerste drukkie tussen twee deelnemers is vir my baie spesiaal. Ek hou daarvan om hul reaksies dop te hou.”

En wat is sy raad aan mense wat liefde soek? “Elke pot het ’n deksel. Jy kan net nie altyd in beheer wees van die tydsberekening nie, maar dit sal gebeur wanneer dit moet.”

Wie’s My Liefie? word elke Vrydagaand om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.