Luidens gerugte het die 34-jarige sanger sy meisie die afgelope naweek in Los Angeles die jawoord gevra.

“Behati is baie opgewonde,” het haar pa, Boet, vir ons uit Grootfontein in Namibië vertel. Behati is Boet en sy vrou, Magda, se enigste kind.

Koerante het hom reeds gebel, vertel hy, maar hy wil nie te veel oor die verlowing verklap nie. Hy het wel gesê dat Adam hom voor die tyd gebel het om te vra of hy sy dogter die jawoord kan vra. “Hy het dit baie ordentlik gedoen,” sê Boet. Die paartjie het haar ouers gebel om die nuus te deel.

“Ons het hom nog nooit ontmoet nie. Ek het nog net met hom oor die telefoon gepraat. Hulle het wel gesê hulle wil ons uitvlieg om sy familie te ontmoet,” vertel hy.

Adam en Behati, ’n Victoria's Secret Angel, het in Mei 2012 begin uitgaan. Hulle het vroeër vanjaar uitgemaak, maar het onlangs hul romanse hervat.

Adam het verlede maand vir die kletskoningin Oprah Winfrey gesê die bewering is onwaar dat hy gekant is teen trou. Trouens, hy is eintlik reg om af te haak. “Ek dink dit sal duidelik wees as die tyd reg is en ek gaan dit doen en dit baie geniet,” het hy toe gesê.

Wel, die tyd was duidelik reg. Veels geluk julle twee!