Nieu-Seelanders kan ’n sug van verligting slaak: Marmageddon is verby.

Supermarkte in dié land kan nou weer voorraad van Marmite kry, nadat die produk opgedroog het weens die aardbewing in Christchurch in Februarie 2011.

Dié ramp het die land se enigste Marmite-fabriek sleg getref en vervaardiging van die geliefde smeer moes gestaak word.

Aan die einde van Marmageddon het Sanitarium, die vervaardiger van Marmite in Nieu-Seeland, aangekondig: “Julle het gerantsoeneer, julle het geskraap, julle het Marmaggedon oorleef – nou is die gewag verby!”

“Vanaf 20 Maart is Marmite terug op NZ se winkelrakke. Dankie dat julle nie mal geraak het nie en geduldig gewag het op die swart goud se terugkeer.”

-Bang Showbizz