“Sy het op ’n voltydse grondslag begin skool bywoon nadat dit duidelik geword het sy kan haar vakke hanteer en is liggaamlik in staat om ’n vol skooldag deur te maak,” sê adv. Louise Buikman in ’n e-pos.

Sy is verheug om weer by haar vriende te wees, sê Louise.

Marli (16) en haar broer Henri (20) het ’n bylaanval in hul spogwoning op ’n gholflandgoed op Stellenbosch oorleef, terwyl hul ouers, Martin (54) en Teresa (55), en 22-jarige broer dood is.

Die tiener ly glo aan retrograde amnesie en kan nie onthou wat gebeur het die nag toe haar ouers en broer vermoor is nie.

Maar Louise sê Marli “verstom haar onderwysers en tutors met haar ongelooflike vermoë, veral in wiskunde en fisika”.

Haar klasmaats skryf eksamen terwyl sy gespesialiseerde onderrig kry om haar te help inhaal.

Sy kry ook terapie en berading, al het die intensiteit daarvan verminder noudat sy by die skool besig gehou word, sê Louise.

Sy sê die tiener sien uit na die skoolvakansie wanneer sy saam met familie en vriende sal ontspan.

Louise het nie geantwoord op News24 se navraag of Marli al met haar broer Henri kontak gehad het nie. Luidens berigte in April het Marli haar broer nog nie sedert die aanval gesien nie.

Bron: Lauren Hess, News24