Die 16-jarige oorlewende van ’n grusame bylaanval op Stellenbosch het die hospitaal verlaat.

Marli van Breda is Saterdag uit die Vergelegen Mediclinic op Somerset-Wes ontslaan sodat sy met rehabilitasie kan begin, berig Netwerk24.

Die gesin se prokureur, Martin Coetzee, het gesê sy is na ’n ongenoemde rehabilitasiesentrum gebring waar sy arbeidsterapie en liggaamsterapie sal ondergaan.

Coetzee het gesê Marli kan praat, maar is nog nie sterk genoeg om ’n volledige polisieverklaring af te lê nie.

Marli was ses weke in die hospitaal nadat sy ernstig beseer is tydens ’n aanval in haar gesin se huis op die spoglandgoed De Zalze op Stellenbosch. Haar pa, Martin (54), ma, Teresa (55), en 22-jarige broer, Rudi, is dood in die aanval op 27 Januarie. Haar broer Henri (20) het geringe beserings opgedoen.

Robert Daniels, nooddienswoordvoerder, het vroeër gesê Marli het ’n bylwond aan die kop opgedoen en haar nekslagaar is afgekap.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die polisie het die moorddossier gister aan die nasionale vervolgingsgesag oorhandig vir assessering.

Bronne: Netwerk24, News24, Sapa