Is Marli se hare werklik afgeskeer soos wat daar in die nuutste Huisgenoot (Marli kan wel onthou, 23 April) beweer word? Of het sy steeds lang, blonde hare soos sy op die wyd-gepubliseerde foto verskyn?

Marli se regverteenwoordiger, Debbie Wybrow, het eksklusief aan Huisgenoot die volgende bevestig:

“Marli het ‘n pruik vir die fotosessie gedra. Haar hare was afgeskeer soos wat dit gewoonlik met elke persoon die geval is voor hulle neurochirurgie moet ondergaan,” het sy gesê.

marli-hare

Die 16-jarige meisie het ‘n verwoede bylaanval op haar gesin op 27 Januarie oorleef. Sy het ernstige kop-en nekbeserings opgedoen terwyl haar ouers en oudste broer as gevolg van die aanval beswyk het.

Luidens die artikel in die Huisgenoot van 23 April 2015 het ‘n bron ná aan die familie vertroulik aan Huisgenoot gesê dat Marli se lang, blonde hare heeltemal afgeskeer moes word vir die talle operasies wat sy tot nou toe moes ondergaan.

‘n Mediaverklaring, wat Sondagoggend deur Marli se voogde, André en Sonja du Toit, en familiewoordvoerder Ben Rootman uitgereik is, het egter groot verwarring onder Suid-Afrikaners geskep.

Saam met die verklaring is ‘n foto van Marli wat op Vrydag, 17 April 2015 geneem is, ook aan die media vrygestel. Op dié foto het sy lang, reguit blonde hare.

Die haarnet wat Marli oor haar kop getrek het voordat sy die pruik opgesit het, is kwalik sigbaar, maar jy kan dit wel sien.

Volgens Huisgenoot se bronne is al Marli se hare steeds kort geskeer en loop sy daagliks met ‘n mussie of hoed rond.

“Marli is ‘n baie brawe, jong vrou en is gemaklik met of sonder haar pruik,” het Debbie gesê.

- Joanie Bergh