Sy sal waarskynlik in die nabye toekoms voltyds teruggaan skool toe.

Haar prokureur, Debbie Wybrow, het Sondag aan Netwerk24 gesê dit was Marli se derde besoek aan die skool en dit was deel van die proses om haar weer by die samelewing te integreer.

“Marli het die besoek baie geniet,” het Debbie gesê. “Sy was by haar vriende in die Gr. 11-klas en om die studenteonwikkelingseenheid te ontmoet. Sy het ’n rukkie buite gesit en die ander leerders het met haar kom praat. Dis elke keer vir haar lekker om terug te gaan.”

Volgens Debbie is daar ’n sterk moontlikheid dat Marli binnekort weer voltyds kan begin skoolgaan.

Haar familie en regs- en mediese spanne sal dié week vergader om oor die beste keuses vorente te besluit.

“Sy is in ’n goeie posisie met ’n skool soos Somerset College wat aan individuele leerders se spesiale behoeftes kan aandag gee,” het sy gesê. Marli het ook voorheen ’n rugbywedstryd by die skool gaan kyk en met die skoolhoof gaan praat.

'Dis wonderlik om te sien hoe sy verbeter.'

“Dis wonderlik om te sien hoe sy verbeter. Sy is ’n pragtige, positiewe mens en vasbeslote om ten volle te herstel,” het Debbie gesê.

Marli en haar broer Henri (20) is die enigste oorlewendes van ’n bylaanval op 27 Januarie op haar gesin by die gholflandgoed De Zalze in Stellenbosch.

Hul ouers, Martin (54) en Teresa (55), en broer, Rudi (22), is almal in die aanval dood.

Kapt. FC van Wyk van die polisie het gesê daar was geen nuwe verwikkelinge in die ondersoek na die voorval nie.

Bronne: Netwerk24, News24