Die byskrif by die foto lui: “Eerste dag terug ná vaderskapverlof. Wat sal ek aantrek?”

Dis duidelik dat dit ’n kwaai kwelvraag kan wees, want watter skakering van grys gaan gekies word?

Nie dat Mark ’n tipiese vaal mannetjie is nie. Dis net dat hy voel klere, nes ontbyt, is bloot ’n simpel besluit waaraan hy nie te veel tyd wil afstaan nie. Hy is boonop hopeloos te besig om na die wêreld se grootste sosiale netwerk om te sien.

Lees ook: Bloedjonk en stinkryk: So maak dié jonges hul miljoene

“Ek wil werklikwaar my lewe so skoon as moontlik hou sodat ek so min as moontlik besluite hoef te neem buiten hoe om die (Facebook-) gemeenskap te dien.”

“Ek is in die uiters gelukkige posisie waarin ek elke dag wakker word en meer as 1 biljoen mense help bedien, en ek voel asof ek nie my werk doen as ek enige van my energie op simpel of ligsinnige dinge in my lewe spandeer nie. So kan ek al my energie daarop toespits om bloot die beste produkte en dienste  te bou.”

Dus is die antwoord op Mark se kwelvraag vandag eenvoudig: Dra ’n grys T-hemp . . . enige grys T-hemp in jou kas.

Lees ook: Steve Jobs, mede-stigter van Apple sterf

Bekendes se standaard-uitrustings.

  • Steve Jobs, die Apple-man, het gewoonlik ’n swart skilpadnekhemp, blou jeans en New Balance-tekkies gedra.
  • Amerika se pres. Barack Obama is ’n bietjie waaghalsiger met blou of grys pakke.
  • Die eksentrieke modeontwerper Karl Lagerfeld sal jy gewoonlik in ’n swart pak, wit hemp, handskoene en natuurlik ’n sonbril aantref.
  • Dean Kamen, uitvinder van die Segway, is gek oor denim, denim en denim. Hy’s die man wat jy altyd ’n denimhemp, denimbroek en werkstewels sal aantref.
  • Selfs die genie Albert Einstein het sy eie styl gehad: ’n grys pak, geen sokkies en natuurlik daardie wilde haredos.
  • Die countrysanger Johnny Cash was bekend as die man in swart vanweë sy voorkeur om net swart klere te dra.
  • Simon Cowell se rooitapyt-uitrusting is gewoonlik ’n wit hemp met die boonste knopie oop en ’n swart baadjie.

Hoe lyk jou klerekas? Deel gerus foto’s met ons deur dit na web@huisgenoot.com te stuur met Klerekas in die onderwerplyn.

Bronne: mashable.com, Facebook, forbes.com

- Annelene Oberholzer