Die internet entrepreneur Mark Zuckerberg het gisteraand saam met die aankondiging van sy eersteling se geboorte beloof om 99% van sy Facebook-aandele - ter waarde van sowat $45 miljard - weg te gee sodat die wêreld 'n beter plek vir haar sal wees.

Mark, die mede-stigter en uitvoerende hoof van Facebook, het gisteraand op sy Facebook-blad bekend gemaak hy en sy vrou het onlangs 'n dogter, Max, ryker geword: "Priscilla en ek is so bly om ons dogter, Max, in die wêreld te verwelkom!"

Daar word nie gespesifiseer presies wanneer Max gebore is nie, maar die BBC skryf dat dit reeds laasweek was.

Talle bekendes, insluitend die stigter van Microsoft, Bill Gates, se vrou Melinda sowel as die sanger Shakira het die egpaar geluk gewens.

Mark het in 'n liefdesbrief wat die egpaar aan Max geskryf het beloof om 99% van sy aandele "binne hul leeftyd" aan liefdadigheid te skenk sodat die wêreld 'n beter plek vir haar sal wees.

In die brief sê Mark en Priscilla hulle hoop, soos enige ouer, om 'n beter wêreld vir hul dogter te skep en dat die winste van sy aandele aan die Chan Zuckerberg Inisiatief geskenk gaan word. Die mikpunt van die inisiatief is om "die mense se potensiaal te bevorder sowel as om gelykheid vir alle kinders van die volgende generasie te bewerkstellig".

Van die vraagstukke wat die paartjie na aan die hart lê wat hulle wil takel, sluit onder meer in om siektes te probeer genees, verpersoonlike leer te bevorder, skoon energie moontlik te maak, mense te verbind, gelyke regte te bevorder en begrip oor nasies heen te versprei.

"Ek en jou ma het nie woorde om te beskryf die hoeveelheid hoop op die toekoms wat ons in jou sien nie," het Mark verder aan Max geskryf.

Die brief het ook die belangrikheid van tegnologie benadruk vir toekomstige geslagte om op 'n gelyke voet te bestaan. "Baie van die grootste geleenthede vir jou generasie gaan gebeur as almal toegang tot die internet het," skryf Mark aan Max.

Mark en sy vrou, Priscilla, het vroeër vanjaar 'n roerende nota op Facebook geplaas oor al die miskrame wat hulle al moes verwerk. Nou is die paartjie opgewonde om hul lewens saam Max te spandeer. Mark het ook vroeër aangekondig hy gaan twee maande ouerskapsverlof neem, terwyl alle Facebook-werknemers, beide ma's en pa's, geregtig is op vier maande.

Lees Mark se volledige brief aan Max hier.

Bronne: BBC; New York Times; Netwerk24