In die land van die sportmal Aussies brand die vreugdevure hoog, want uiteindelik het hulle weer ’n held in die  opwindende wêreld van Formule 1.

Sy naam is Mark Webber – en dalk, net dalk, word hy nog ’n waardige opvolger vir Australië se legendariese Jack Brabham . . .

Die 33-jarige Mark, ’n aantreklike hemelbesem met ’n sterk kakebeen, het pas twee agtereenvolgende Grand  Prixwedrenne gewen en pryk nou boaan die F1-punteleer.

Dié spoedvraat het sy teenstanders onder die stof gejaag en in sy Red Bull-renmotor behoorlik vlerke gekry. Dit het

menige Aussie laat terugdink aan die Brabham-roemjare van 1959, ’60 en ’66 toe hul man die wêreldkampioen was.

Dalk kom hier eindelik weer een vir Australië.

Net agt dae nadat hy in die Spaanse Grand Prix eerste oor die wenstreep gejaag het, kraai hy toe so wrintiewaar ook in die Monaco Grand Prix koning, die vierde oorwinning in sy agt jaar lange F1-loopbaan. In albei het hy van die begin tot einde voor gejaag.

In Monaco het hy sy spanmaat, die Duitser Sebastian Vettel, in die tweede plek agtergelaat, met Renault se Robert Kubica derde. En as jy foutloos in die strate van Monte Carlo kan jaag, tel jy onder die wêreld se bestes.

Die huidige wêreldkampioen, Jenson Button, is al in die derde ronde sy algehele voorsprong op die puntelys kwyt toe hy motorprobleme gehad het, en nou loop Mark met 78 punte voor.

Sebastian het ook 78 punte, maar sy twee oorwinnings besorg Mark die topposisie. “Om hier te wen is ’n baie, baie spesiale dag. Dis ongelooflik en die beste dag van my lewe,’’ het hy uitgelate op die podium in Monaco gesê, en

die sjampanje met mening laat spuit.

Lees meer oor Mark Webber in die Huisgenoot van 27 Mei 2010.

Op die internet:

http://www.markwebber.com/

http://www.redbullracing.com/

http://www.f1.com/