As jy kyk na die foon op die lessenaar, sal jy besef hoe oud die foto is (dis ’n Motorola Razr!).

Sjoe, maar die tyd vlieg!

Jy besef nie altyd hoe die tyd vlieg as jy nie ’n oomblik stilstaan en terugdink aan wat in die wêreld gebeur het toe iets in jou lewe gebeur het nie. Ek het hieraan gedink toe ek besef ek het 5FM 10 jaar gelede gegroet en by 94.7 Highveld Stereo aangesluit!

Dit voel soos gister . . . tot ek begin onthou wat alles in daardie jaar in die wêreld gebeur het. In 2003, toe ek die skuif gemaak het, was Friends nog op TV (seisoen 9) en die meeste van ons het vierkantige TV-skerms gehad. Dit was die jaar toe die Concorde sy laaste kommersiële vlug aangepak het, Saddam Hoesein is gevang en Apple het iTunes bekendgestel.

Ek onthou ook die wêreldgebeure deur terug te dink aan watter liedjies daardie tyd op die radio gespeel het (en ek is baie goed daarmee om die jaar te onthou toe liedjies uitgereik is). In 2003 het van my gunsteling-rockgroepe op die radio geboer (ja, daar was toe nog baie rockmusiek op radio), soos Foo Fighters, Puddle of Mudd, Evanescence, The Offspring en The All-American Rejects.

Ek het my vrou in 2003 ontmoet. Ek was in ’n opnamehokkie besig met stemoorklanking, ek het deur die glaspaneel gekyk . . . en sy het daar gestaan. Ek het geweet sy is die een.

Almal is deesdae so gefokus daarop om vorentoe te kyk, na wat kom. Maar dis soms lekker om net ’n oomblik terug te kyk . . . en die lewe te waardeer.

- Mark Pilgrim