Jy is ’n radio-omroeper – watter musiek speel jy vir jou dogters, Tayla-Jean (4) en Alyssa (1)?

Ek het ’n mat in my tuiskantoor wat die dansbaan geword het en veral my eenjarige vra dikwels ek moet musiek opsit sodat sy kan dans. Omdat sy op haar ouderdom geen benul van musiek het nie, bederf ek myself ook so ’n bietjie en speel vir haar hope dansmusiek uit die 80’s!

Wat is jou top-10 keuses vir kindermusiek?

Dit klink of ek die vraag omseil, maar wanneer ons vir die meisies musiek speel, is daar geen gunstelinge nie. Daar is nagenoeg 4 000 liedjies op die iPod (omtrent elke radiotreffer sedert 1982) en dit speel die liedjies deurmekaar. My vierjarige was in ’n stadium versot op Travis (Why Does it Always Rain on Me?), maar nadat dit twee weke in die kar gespeel het, het sy moeg daarvoor geword.

Hoe belangrik is musiek vir jou en jou dogters?

My dogters word groot in ’n huis waar daar altyd musiek speel. Dis óf dieselfde vyf video’s wat hulle altyd op DStv se VH1 Classic speel óf iets wat deur my luidsprekers in die kantoor speel. Musiek is belangrik omdat dit dans aanmoedig.

Het hulle dieselfde musieksmaak?

Hulle het nog nie ’n besliste musieksmaak nie, maar hulle hou van enigiets met ’n lekker ritme. My oudste dogter hou van iets aansteekliks.

Sou jy wou hê hulle moet eendag die musiekbedryf betree?

Ek sal hulle nie keer nie, maar ek sal dit ook nie aanmoedig nie. Dis ’n uiters genadelose bedryf waarin jy nie altyd weet waar jou volgende salaristjek vandaan kom nie.

- Gilda van Schalkwyk