Dit het wêreldwyd opslae gemaak nadat hy deur ’n aflewering bewusteloos gelaat is, ’n seldsame dood in die sport.

Spel is op die tweede dag van die derde toets tussen Pakistan en Nieu-Seeland in Sharjah gestaak; sommige spelers word as “ontsteld” beskryf.

’n Beeld van ’n glimlaggende Phillip is op die elektroniese telbord van die leë stadion in die Verenigde Arabiese Emirate uitgesaai waar die 25-jarige onlangs vir Australië gespeel het.

By die Adelaide Oval, Phil se tuisveld, is die boodskap “Vale Phillip Hughes 1988-2014” op die telbord gewys.

Die Australiese krieketlegende Adam Gilchrist het almal se skok opgesom met die volgende twiet: “Nee, nee, nee, nee, nee. Rus in vrede, Phillip Hughes.”

Die kolwer het tydens ’n wedstryd om die Sheffield-skild in Sydney inmekaargesak en het ’n noodoperasie ondergaan, maar het nie sy bewussyn herwin nie.

Die Australiese eerste minister, Tony Abbott, het gesê Phil “was ’n jong man wat sy drome uitgeleef het.

“Sy dood is ’n hartseer dag vir krieket en ’n hartverskeurende dag vir sy familie.”

Shane Warne en Glenn McGrath was van die Australiese krieketlegendes wat hulde gebring het. Die nasionale afrigter, Darren Lehmann, het getwiet: “Rus in vrede, kampioen. Ons almal gaan jou mis.”

Die Indiese superster Sachin Tendulkar het ook hulde gebring aan Phil, sy gewese spanmaat in die Indiese Premierliga.

“Geskok om van Phil te hoor. ’n Hartseer dag vir krieket,” het hy gesê.

Die gewese Suid-Afrikaanse paaltjiewagter Mark Boucher, wat in 2012 ná ’n fratsongeluk met ’n dwarsbalkie uitgetree het, het getwiet hy is “stomgeslaan”.

Die hoof van die Internasionale Krieketraad, David Richardson, het gesê: “Almal wat al betrokke was by die spel, is platgeslaan deur die nuus.”

Daar was ook simpatie vir die snelbouler Sean Abbott, wie se opslagbal Phil getref het.

“Hoe sal hy voortgaan? Sy loopbaan het ’n knou gekry en hy het berading nodig, wat sekerlik al onderweg is, en hy moet kalm bly,” het die gewese Pakistanse snelbouler Waqar Younis aan AFP gesê.

England se Ian Bell het getwiet: “Hou Sean Abbott ook asseblief in jul gedagtes. Dit moet verskriklik wees.”