“Hy het oorleef en dis wonderlik,” vertel sy vrou, Evette, aan Huisgenoot oor die telefoon uit die kusdorp tussen Gordonsbaai en Kleinmond.

“Ons het nooit gedink dit sou so ’n ernstige operasie wees nie. Hulle moes hom van onder sy kuiltjie tot op sy laaste rib oopsaag om die hart uit te kry en reg te maak,” vertel Evette. Hy is op 28 Junie in die Busamed Paardevlei privaat hospitaal op Somerset-Wes geopereer. “Ek is so beïndruk deur daardie hospitaal,” vertel Evette.

Hulle honde is net so opgewonde dat hy terugkom. Die rifrug Tookwie en die basterbrakkie Paljas blaf elke keer opgewonde wanneer Evette sy naam noem.

Dis ook vir haar wonderlik hoe die gemeenskap van Rooiels haar in hierdie tyd bystaan.

“Dit was amper vir haar soos ’n filmproduksie. Sy het dit onbewustelik gedoen,” vertel Evette oor haar goeie vriendin, Anita le Roux, wat ook hier woon. Sy was ook die draaiboekskrywer en vervaardiger van die fliek Twee Grade van Moord, waarin Marius saam met nog ’n legende in die vermaakbedryf, Sandra Prinsloo, gespeel het.

“Al die vroue is ingespan, veral as lynvervaardigers om my op te tel en hospitaal toe te neem na Marius toe,” vertel sy.

Marius het sowat ’n maand gelede moeg geraak terwyl hy gedraf het. Hy het 'n dokter gespreek en eindelik is vasgestel dis sy hart.

“Ek het vir hom gesê hy moet die varkie-klep vat. Hy het mos op ’n plaas grootgeword, maar die dokter besluit toe op die kunsklep,” vertel sy.

Humor en lag hou haar en Marius positief en gesond.

“Hy het nooit voorheen opgepak nie. Dit het alles baie skielik gebeur. Nou moet hy net heeltemal gesond word,” vertel Evette, ’n gerespekteerde kunstenaar. Einde Augustus moet sy die hele Marble Hall in die Kunstekaap-teater in Kaapstad met haar beelde vol maak.

“Ek sal dit teen ’n moewiese pas moet doen en net seker maak ek eindig nie op met ’n hartomleiding nie,” skerts sy.  

Marius is onder meer bekend vir sy rolle in TV-reekse soos Fluiters en Vloeksteen en rolprente soos The Gods Must Be Crazy.

"Nou moet hy net heeltemal gesond word."

"Hy sal nie sommer nou dadelik Hamlet kan speel nie,” vertel Evette. Maar sy is vol hoop dat hy, soos beplan, begin volgende jaar saam met Sandra Prinsloo in Athol Fugard se The Road to Mecca op die verhoog te sien sal wees.

“Jammer, ek moet gaan aantrek,” knip Evette die telefoongesprek kort. “Ek moet my man gaan haal.”