Die bekroonde skrywer Marita van der Vyver kuier in Suid-Afrika vir die bekendstelling van die film Dis Koue Kos, Skat, wat op haar roman gegrond is. Ons het gaan uitvind hoe dit met haar in Frankryk gaan, wat sy die meeste van Suid-Afrika mis en watter raad sy haarself 30 jaar gelede sou gee.

[caption id="attachment_135035" align="alignnone" width="591"]Foto: Misha Jordaan Marita is tans in Suid-Afrika om die bekendstelling van haar fliek Dis Koue Kos, Skat by te woon. Foto: Misha Jordaan[/caption]

Wat dink jy van Dis Koue Kos, Skat?

Ek voel baie warm om die hart daaroor. Dit wat ek tot dusver gesien het, gee my baie vertroue, en ons kry baie goeie terugvoer wat ons van die voorskoue.

Hoe voel dit om karakters en ’n storie in jou kop te hê en dit dan op ’n skerm te sien?

Die proses is baie lekker, want dit is karakters wat net in my kop bestaan het wat lewend word. Hulle word mense. Die skryf en lees van ’n boek kan baie eensaam wees. Om aan ’n fliek te werk en dit te kyk is heeltemal anders; dit vat die alleenheid van skryf weg.

Hoe gereeld kom kuier jy in Suid-Afrika?

Dit is my derde keer vanjaar en ek kom in September weer. Ek dink dit sal ál meer gebeur. In die verlede was my kinders baie klein. Nou is die baie makliker, want net my dogter (Mia) is nog in die huis. Ek het nou ook baie meer ysters in die vuur.

Waarmee is jy nou besig?

Ek werk aan ’n televisiereeks. Ek sal nie die hele reeks kan skryf nie, want ek sal nie tyd hê daarvoor nie. Die eerste episode en die karakters is daar.

Ek is ook in die proewestadium van ’n boek met die titel Misverstand, wat volgende jaar uitgegee word en ek het ook ’n jeugboek, Al Wat Ek Weet, wat nou op die rakke is.

Waar sit en skryf jy?

Ek het soos Virginia Wolf dit noem “a room of my own”. Vir die afgelope vyf jaar dat ons in die huis woon waar ons nou is, het ek regtig ’n ‘room of my own’. ’n Mens het dit nodig om te kan skep. Ek het al voorheen in die kombuis, slaapkamer en sitkamer geskryf. In die vorige huis het ek ook ’n werkkamer gehad, maar dit was langs die kombuis. Die hele wêreld het daar verbygestap. Dit was amper soos die Kaapse stasie.

Nou is dit baie lekker; dis aan die einde van die huis. Afgesonder, maar steeds deel van die huis en ek kyk uit op ’n fontein. Daar is een hele muur vol boeke en die ander muur is vol foto’s. Dit is die bontste en die deurmekaarste kamer in die huis, maar dit is lekker.

Is dit waar die stories na jou toe kom?

Ek sou nie sê dit is waar ek my idees kry nie, maar dit is waar ek die harde werk doen. Daai plek waar stories na jou toe kom is gewoonlik op die snaakste plekke. Dit gebeur soms ná ’n voorval of terwyl ek met my kar ry. Daar is heeltyd sulke vonke, maar party van hulle word ’n vuurtjie en dan moet ek kantoor toe gaan en daai vuurtjie gaan stook.

Is dit vir jou moeilik om te skryf?

Ja, dis altyd moeilik, maar dit is veral moeilik om dit maklik te laat lyk. Die leser weet nie hoe lank jy aan daai sinnetjie geskryf het nie, hoeveel keer jy die punte ingesit en uitgehaal het.

Wat eet jy graag wanneer jy in Suid-Afrika is?

Beskuit. Skryf daar mense kan vir my beskuit pos. Lekker growwe beskuit. Die Franse eet dit glad nie. Hulle het wonderlike croissants en ander goed, maar hulle het glad nie doodgewone beskuit nie. Ek is te lui vir bak, maar deesdae is ek so desperaat ek bak al self. Ek vat gewoonlik so een of twee pakke wanneer ek hier is. Maar die seuns se girlfriends eet tot nou al beskuit. So dit verdwyn baie vinnig in die huis. Ek steek ek dit al tussen my klere weg!

Sal julle ooit terugtrek?

Ek hoop ons kan eindelik die swaeltjieding doen en tussen Suid-Afrika en Frankryk woon. Daar is nog een voëltjie in die nes, maar wanneer sy eers uit die huis en my man afgetree is – dis nog so vyf jaar – sal ons dalk so iets begin doen.

Het jy al Frans onder die knie?

Ja, ek kan dit praat, maar nie skryf nie. Toe my dogter nog klein was en ek briefies saam met haar skool toe gestuur het, het ek dit altyd eers vir haar gewys. Sy was 10 jaar oud, maar dan vra ek haar of my briefie reg is. Skryf bly maar ’n probleem, want die grammatika is baie moeilik.

Wat is die bekoring van Frankryk?

Ek sê altyd dit is baie soos ’n boom: Jou wortels is in Afrika en jou blare is in ander plekke. Jou wortels word altyd gevoed deur waar jy vandaan kom. My wortels sal altyd hier bly. Ek wil nie Frans word nie en ek wil nie Frans wees nie, maar dit is lekker dat my takke en blare daar kan wees.

’n Mens raak lief vir die plek. Alles om my is baie oud. Elke dag wanneer ek die kinders gaan haal, ry ek verby ’n kasteel wat in die 12de eeu gebou is. Alles het ’n lang geskiedenis.

Watter raad sou jy die 21-jarige Marita gee?

Moet jou nie te ernstig opneem nie en kry ’n dikker vel. Jy moet dit wat ander mense van jou dink minder ernstig opneem. Dit is baie moeilik, want as jy wil skryf, moet jy in voeling wees met ander se gevoelens.

Is jy oor iets spyt?

Ja, oor baie dinge, maar ek kan nie nou eers aan iets dink nie. Een ding waaroor ek nie spyt is nie, is dat ek nooit my naam verander het nie. Vroeg in my loopbaan wou een van my agente hê ek moes my naam verander, want Marita van der Vyver sou nie in Engels werk nie. Toe het ek net geweier. Ek is bly ek het dit nooit gedoen nie.

Is daar iets wonderliks wat jy al ervaar het wat jy graag weer sou wou doen?

Ek sal graag nog wil reis. Ek wil Viëtnam toe gaan. Ek wil Kambodja toe gaan. Ek wil Suid-Amerika sien. Ek sal graag, as ek kon, weer die lewe wou skenk. Dit was een van die wonderlikste ervarings van my lewe. Nie die pyn daarvan nie, maar die wonder van lewe gee. Op die ou end is ek trotser op my kinders as op enigiets wat ek geskryf het.

Marita en haar man, Alain Claisse (58), het vier kinders. Saam het hulle Mia (16), Marita het ’n seun, Daniel (24), uit ’n vorige verhouding en Alain het twee seuns, Thomas (24) en Hugo (30).

Dis Koue Kos, Skat wys van Vrydag 26 Augustus in teaters. As jy ’n aanhanger van Marita is, kan jy haar Saterdag 27 Augustus om 15:15 by die Tygervallei-winkelsentrum in Kaapstad ontmoet of Sondag 28 Augustus om 17:00 by die Ster-Kinekor in die Kolonade-winkelsentrum in Pretoria.