Die week het wild afgeskop vir Marion (veral bekend vir haar rol in Inception) toe gerugte die ronde begin doen het dat sy dalk die oorsaak, of minstens gedeeltelik die oorsaak sou wees wat die Brangelina-huweliksbootjie sou sink. Marion het self reeds intussen die gerugte rondom haar swangerskap en die skimpe dat dit dalk Brad se kind kon wees, ontken. Guillaume en Marion is sedert 2007 'n paartjie. Hy is ook die pa van hul vyfjarige seuntjie Marcel, en die nuweling op pad. Guillaume het net soos Marion hom na Instagram gewend om sy sê te sê met behulp van 'n waarskuwingsteken.

Daarin bestempel hy die gerugte as onnosel en sonder enige gronde.

"Ek maak nie 'n gewoonte daarvan om kommentaar op gerugte oor ons te lewer nie, het hy gesê.

"Ek praat ook nie gewoonlik oor my privaatlewe wat ek tot nou toe doelbewus beskerm het . . . maar die woede van die poniekoerante en die onnoselheid van sommige mense wat hulself joernaliste noem, die haters wat dapper voel agter hul sleutelborde, het my daartoe gedryf om te praat oor die trots, liefde, respek en bewondering wat ek vir Marion het vir hoe sterk en intelligent sy teen al die onnosel en onbevestigde beskuldigings staan."

Hy sluit sy kommentaar af deur te sê dis nou tyd om aan te beweeg.

Angelina het Maandag, 19 September, 'n egskeidingsgeding teen Brad Pitt aanhangig gemaak vanweë "onversoenbare verskille".

Intussen het amptenare van die Amerikaanse FBI bevestig dat hul inligting inwin rondom 'n beweerde voorval tussen Brad en sy kinders.

© Cover Media/© Lia Toby/WENN.com