Die sangeres (43) was Sondag in New York besig met die musiekvideo vir haar en Young Jeezy (35) se liedjie, Beautiful, toe sy neerslaan. Haar man, Nick Cannon (32), regisseer die video.

Mariah se woordvoerder, Cindi Berger, het aan die New York Post gesê: “Mariah is beseer terwyl hulle besig was met die video vir ’n herverwerking van Beautiful. Sy is hospitaal toe geneem, waar dokters haar skouer weer in lit gedruk het. Sy is piekfyn en sterk by die huis aan.”

Daar word geglo Mariah se hoëhakskoene was die rede vir die val. Sy sal egter steeds op 13 Julie optree by ’n konsert in Central Park ten bate van slagoffers van Orkaan Sandy.

’n Bron het gesê: “Sy gaan wel optree, maar sal waarskynlik ’n verband om haar arm dra.”