Die sangeres van Art of Letting Go, wat’n seisoen lank ’n beoordelaar saam met Nicki Minaj, Randy Jackson en Keith Urban was, het gesê dit was soos om “elke dag in die hel met Satan te werk”.

Mariah (43) het Dinsdag in ’n onderhoud met Angie Martinez op die New Yorkse radiostasie Hot 97 gesê: “Om eerlik te wees, ek het dit gehaat. Ek was die eerste een wat ingestem het. Ek het gedink daar gaan drie mense in die paneel wees. Hulle het vir my ’n lekker som geld aangebied en ek dink toe: Oukei, Randy Jackson gaan daar wees. Ek ken hom al jare. Hy was destyds my basspeler. Dit sou nie ’n probleem wees nie.”

Die sangeres, wat al ’n paar keer oor haar probleme met die rapper Nicki Minaj gepraat het, het bygevoeg: “Maar dis nie hoe dit gebeur het nie. Dit was soos om elke dag in die hel met Satan te werk.”

Mariah, wat voorheen gesê het haar man, Nick Cannon, het haar oorreed om by die program aan te sluit, het die vervaardigers van die Fox-reeks daarvan beskuldig dat hulle deelnemers weens “politieke redes” nie laat deurdring het nie.

“Weet jy waarvan het ek gehou? Die deelnemers,” het sy laat hoor. “Party was goed, en ook goeie mense, jy kon dit sien; dit was teleurstellend toe (die beoordelaars) mense weens politieke redes nie laat deurgaan het nie.”

Mariah se nuwe album word vroeg volgende jaar uitgereik. “Ek dink dalk moet dit Februarie wees, want ek hou van Valentynsdag, veral die liefdesliedjies.”