Die 43-jarige sangeres het bevestig dat sy ná een seisoen as beoordelaar die reeks verlaat om ’n wêreldtoer te onderneem ná die sukses van haar jongste enkelsnit, Beautiful.

Mariah het dié boodskap van haar woordvoerder hertwiet: “Danksy die wêreldwye sukses van #Beautiful" (#1 in 30+ lande tot dusver) bevestig @MariahCarey haar wêreldtoer & groet Idol http://mariahcarey.com.”

Behalwe die toer het Mariah ’n paar ander projekte wat sy vanjaar aanpak. “Die res van die jaar is stampvol; Mariah rond haar eersdaagse album af, gaan optree as hoofkunstenaar by Macy’s se vuurwerk-skouspel op 4 Julie en in Lee Daniels se fliek The Butler verskyn wat in Augustus uitgereik word,” het haar woordvoerder aan die tydskrif People gesê.

Mariah is die tweede beoordelaar wat hul vertrek van Idol aankondig nadat Randy Jackson, die enigste oorspronklike beoordelaar wat oor was, onlangs gesê het hy gaan nie terugkeer vir die nuwe seisoen nie omdat hy op nuwe belange wil konsentreer.

“Ek wil net al die gegis stopsit deur te sê dat ek ná 12 jaar as beoordelaar op American Idol besluit het dis tyd om te groet,” het hy gesê. “Ek is baie trots op hoe ons die TV- en die musiekbedryf vir altyd verander het. Dit was ’n geleentheid wat my lewe verander het, maar ek sien uit daarna om op my maatskappy Dream Merchant 21 en ander sakebelange te fokus.”

Dis onseker of Keith Urban as beoordelaar gaan terugkeer.