Die geliefde aktrise het Sondagmiddag aan kanker beswyk na ’n siekbed van twee maande.

“Ek is dankbaar om nog so baie werk te hê en dis veral vir my lekker om saam met jongmense te speel,” het sy vir Huisgenoot gesê toe sy verlede jaar Junie in die skreeusnaakse Lefra Produksie ‘Da’ gaat die bruid! in die Kunstekaap opgetree het. Die Vetkoekpaleis-ster het moeg gelyk, maar dit was te verstane omdat dié komiese rol baie van die veteraan-aktrise geeïs het. Sy het vroeër ook verklap dat sy nog geensins aan aftree gedink het nie.

“My ma is vanmiddag (Sondag) om 14:20 op Stellenbosch oorlede. Sy is na ’n kort siekbed van twee maande aan kanker oorlede,” het haar enigste seun Johan Boot die nuus gistermiddag kort ná haar afsterwe op 75 aan Huisgenoot oorgedra.

Op TV was sy bekend en geliefd as die klakous Ella Visagie – Worsie se ma in Vetkoekpaleis en later in Molly & Wors. Ella sou ook later haar eie reeks op kykNET kry. Marga van Rooy is bekroon met verskeie pryse vir haar rol in die fliek Die Windpomp; sy was skreeusnaaks in Vrou soek ’n Boer, Lipstiek Dipstiek, Karate Kallie, Fanie Fourie’s Lobola en nou meer onlangs as Girla in ’n Paw Paw vir My Darling.

Vir haar aanhangers het Marga van Rooy soos familie gevoel...

In Februarie verlede jaar het Marga en Henriëtte teenoor Huisgenoot hart oopgemaak oor hoe Henriëtte al vir die afgelope dertig jaar met skisofrenie saamleef. Ek is “’n trotse, dankbare ma,” het sy oor haar 48-jarige dogter gesê. Sy was mateloos beïndruk met hoe Henriëtte met die regte medikasie, familie-ondersteuning, insig en deursettingsvermoë “uit die gat van skisofrenie” geklim het.

“Skisofreen is so ’n harde woord. Ek verkies persoonlikheid-gestremdheid,” het Marga met een van haar talle pruike op vertel – die een wat sy daardie dag aangehad het, was die een wat sy toe in die kykNET-sepie Villa Rosa gedra het. “Ag, ek kan my eie haartjies ook laat doen, maar mense ken my nou al met die pruike,’’ het sy toe verduidelik.

Sy en Henriëtte was vas oortuig daarvan dat sy soos haar ma ook ’n goeie aktrise sou kon wees, maar emosioneel sou dit te veel spanning vir haar veroorsaak. “Die siekte keer dat jy jou talente uitleef, maar intelligensie word glad nie afgetakel nie. Dit is die persoonlikheid en wil wat aangetas word,’’ het Marga baie ernstig benadruk. “Sy het ’n baie sterk karakter.”

Toe Marga gesels oor hul reis, was sy deurgaans baie ernstig, nie so ligsinnig soos die rolle wat sy in sitkoms en flieks vertolk nie. “Vergeet van Worsie se ma. Ek was veertig jaar getroud en het vyf kinders. Dis is my claim to fame. Ek speel nie toneel in die regte lewe nie."

Kykers het die eerste keer Marga se talent op die kassie aanskou toe sy vir vier jaar lank vanaf 2003 die rol van Tossie du Buisson in Egoli, M-Net se destydse sepie, vertolk het. Sedertdien het Marga kykers met haar komiese toneelspel laat skater en soos sy haar herfsjare binnegaan het, was daar vir Marga geen sprake van op die stoep sit en klets en brei nie.

Ná haar man, Frans Boot, se dood op 70 het dié ouma van sewe uit Hermanus teruggekeer na die Goudstad en die een rol na die ander losgeslaan.

Ongeag al die rolle wat Marga vertolk het, sal haar kinders haar net vir een onthou – dié as hul ma. “Vir my was my ma nie ’n aktrise nie,” het haar seun, Johan, in 'n destydse onderhoud gesê. “Dit was haar keuse van beroep en het nie ons verhouding gedefinieer nie.’’

“My man was ook so,” het Marga toe vertel. “Hy sou sê: 'Onhou ek is nie Apie nie.’” Apie was natuurlik die lieplapper-man waaroor haar karakter Ella so dikwels gekla het in Vetkoekpaleis.

“Vir hom was ek net sy vrou en maat.”

Marga sal in Hermanus begrawe word, die reëlings is nog nie gefinaliseer nie.

Só bring ander bekendes eer aan Marga:

Willie Estherhuizen (Worsie en draaiboekskrywer van Vetkoekpaleis en Molly & Wors):

“Sy was my TV-ma. Ek was baie lief vir haar. As ek die woord pyn hoor, dan dink ek aan Marga. Sy het vandat Worsie gebore was oor haar pyn gekla - en hom nooit daarvoor vergewe nie,” lag Willie, wat die rol van Worsie in Vetkoekpaleis vertolk het.

“As iemand net die woordjie pyn sê, dan hoor ek al in my gedagtes hoe Marga in daai bekende stem sê: ‘Ai, die pyn.'

“Ek het verskriklik lekker vir haar geskryf en teenoor haar gespeel, want sy was so ongelooflik professioneel en maak nie foute nie. Sy het nie een dag nie ál haar woorde geken nie. Dis iets wat ’n mens deesdae selde onder akteurs sien.

“Jy moet op jou tone wees as jy saam met Marga speel. Daar is nie plek vir foute nie. Sy het vir die jong aktrises ore aangesit. Daar was ook geen airs en graces nie.

“Sy het die wonderlike vermoë gehad om komedie so ernstig te speel. Dis hoe dit moet wees. Jy moet nie probeer snaaks wees nie,” meen Willie.

“Daar is iets van haar professionaliteit wat my altyd sal bybly. Marga het my een oggend vroeg by die huis gebel. Sy was nooit laat nie. Maar dié keer het sy gesê: ‘Willie, vandag gaan ek ’n bietjie laat wees, want my man is gisteraand oorlede.’ Ek het vir haar gesê: ‘Jy durf nie werk toe kom nie, bly vir hoe lank jy nodig het by jou familie en jou kinders.’

“Maar kan jy glo dat sy gedink het sy moet werk toe kom, om net professioneel te bly en niemand teleur te stel nie. ’n Mens kry nie meer daardie dedication nie. Dit is wat dit is: Dedication.”

“Staaltjies van haar is daar baie, maar ek gaan dit nie uitlap nie,” sê Willie en lag geheimsinnig.

Liane Heyl (Boeboe in Vetkoekpaleis):

“Sy was ongelooflik professioneel en het altyd haar woorde geken. Sy was plat op die aarde en só talentvol – sy was ook ’n baie goeie dramatiese akteur.”

Lizz Meiring (Molly in Vetkoekpaleis en Molly & Wors):

“Ek is so geskok en hartseer oor die dood van Marga van Rooy ! My innige simpatie aan haar familie en vriende.

“Marga was altyd soveel pret en hiper professioneel. Reuse voorreg gewees om saam met haar te werk. Ek weet kanker is onlangs by haar gediagnoseer en alhoewel hul geopereer het, kon hul nie als verwyder nie . Marga het volgehou sy is gereed om te speel, maar haar familie het besef, dat die wonderlike aktrise waarskynlik nie weer sal voor 'n kamera of op die planke verskyn nie. Ai liewe “Marga! Ek gaan jou mis! Jy is nou by jou geliefde man , Frans. Ek weet jy het vreeslik na hom verlang. Nou kan jy elke rol speel waaroor jy ooit gedroom het.”

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies:

“Marga van Rooy is nie meer met ons nie. Hoe kan ons in die vermaaklikheidsbedryf ons voorstel sonder ’n Marga van Rooy? Sy was ’n wonderlike aktrise en net so ’n wonderlike mens en vriend. Marga was veral bekend vir haar komiese rolle, maar sy was net so tuis op die verhoog in meer ernstige rolle.

“Ek en Marga het op verskeie projekte saam gewerk. Meer onlangs het sy vir my gespeel in die klugte, MY BOETIE SE BOETIE SE BOETIE SE BABA as die kwaai maatskaplike werker, Mev Poggenpoel. Verlede jaar was sy te sien in DA’ GAAT DIE BRUID as Ouma Daphne.

“Marga se komiese tydsberekening was ongelooflik goed en in die kol. As regisseur het sy dit vir my so maklik gemaak, want as ek vir haar ’n nota gegee het, het sy die aand gaan werk sodat sy dit die volgende dag perfek vir my kon speel soos ek dit gesien het.

“Marga was seker een van die professioneelste aktrises met wie ek in my loopbaan gewerk het … altyd op haar stoeltjie op standby by watter deur sy ook al moes inkom. ’n Mens het nooit na Marga gesoek nie … sy was altyd op die verhoog … reg om te perform . . .”

Hannes van Wyk

“Ek het vir Marga ontmoet in my eerste jaar wat ek professioneel begin toneelspeel het by Sukovs (die Streekraad vir die Uitvoerende Kunste van die Oranje-Vrystaat),” vertel die Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk.

“Sy was seker die eerste persoon wat ek ontmoet het. Ek kom mos maar van die platteland en plaas en ek sal nooit vergeet hoe ek haar op die eerste dag in die huisbak raakgeloop het en gesê het: ‘Môre tannie.’ Sy het vir my vinnig gesê: ‘Nee my kind. Moenie vir my tannie sê nie. Sê sommer net Marga.’”

Marga was ook deel van die Sukovs-teatergeselskap en het gedurig Hannes se ma op die verhoog gespeel.

“Ons het baie ernstige goed saam gedoen en ook baie komedie. En toe was sy natuurlik ook my ma in Egoli (Suid-Afrika se eerste volbloedsepie).

My karakter Krynauw (wat bekend was as sy ma se geliefde Kokkewiet) het mos in ’n stadium boos begin word. Toe het Marga se karakter gesê haar Kokkewiet het nou ’n Kokkerot verander,” onthou Hannes laggend.

“Wat baie mense nie van Marga weet nie is dat sy net so wonderlike ernstige aktrise was. Haar talent het veel verder as komedie gestrek,” sê hy.

“Sy was nie net ’n wonderlike aktrise nie, sy was regtig ’n mense mens. ’n Goeie mens.”

In sy boek Vroue na aan My Hart, wat Hannes einde verlede jaar uitgereik het verwys hy ook na Marga. “Daarin vertel ek hoe sy almal altyd dieselfde behandel het.”